Local sportSport

Shumba Ferro’s slaggereed vir toernooi

Moeder Natuur het die hele speelveld vir die naweek se Cell C Gemeenskapsbekertoernooi verander.

Die deurdringende reën die afgelope week het die Puma Stadion se velde in nat modderbaddens verander. Dit gaan veroorsaak dat stadiger rugby moontlik op 8 Maart opgedis gaan word.

Die uitkoms van Saterdagmiddag se hoofwedstryd gaan bepaal word deur watter span die beste op dié veld gaan aanpas.
Shumba Ferro’s het alreeds al die vogtige lug in aanmerking geneem en daarop was baie van hul spankeuses die afgelope week gebaseer.

Die vaste-vyf wat vir die naweek gekies is, weeg altesaam meer as wat die Bulle se pak geweeg het wat teen die Leeus meegeding het.

MC Botes (loskopstut), Jaco Marnewick (haker), Willem van Niekerk (vaskopstut) en die twee slotte Brendan Snell en Wernor Smit is slaggereed om hul 915kg stootkrag op die span van Wesbank ten toon te stel.

Wayne Dreyer is op skrumskakel gekies met Christi Nelson wat hom op losskakel komplimenteer. Beide dié twee sleutelspelers kan enige taktiese skop waarneem.

Op verdediging het die keuses op die senters Jean Botha en Tommy Collen geval. Dewald Pieterse gaan op heelagter diens doen.
Selfs die reserwe bank is baie goed gebalanseerd. As die gekose voorry moeg word is daar ewe groot manne soos Morné Pretorius, Chris van Leeuwen en Jean-Di Oosthuizen wat wag om hul plek in te neem.

Ferro’s het die week ook ’n groot terugslag beleef met die span se kaptein en agterspeler Christiaan Els wat beseer is.
Christiaan het Saterdag 22 Februarie in die wedstryd teen Boksburg ’n harde hou op die been gekry.
Christiaan gaan sowat vier weke buite aksie wees. Willie van der Merwe neem die leisels as kaptein by hom oor met Jean as onderkaptein.

Die Gemeenskapsbekertoernooi gee vir klubrugbyspelers die kans om hul talent te toon te stel, veral aan die provinsiale afrigters wat dié toernooi met ’n fyn oog gaan dophou.  Geen professionele rugbyspeler speel in die toernooi nie.

Vir plaaslike rugby-entoesiaste wag daar uithaler rugby opwinding wanneer Ferro’s hul openingswedstryd tuis teen Wesbank al die pad van Boland af speel.

Die eerste wedstryd begin om 12:45 met Ferro’s 3 wat teen Kriel 2 kragte meet.
Om 14:05 kom Lorent Ferro’s XV teen Kriel 1 te staan en die hoofwedfstryd met Shumba Ferro’s teen Wesbank begin om 15:30.

Back to top button