Local sportSport

Sensei Leon berei span voor vir Wêreldkampioenskap

Die Japan Shotokan Karate Assosiasie (JSKA) Wêreldkampioenskap is letterlik twee maande weg.

Vanjaar sal die sewende keer wees dat dié kampioenskap aangebied word en drie karatekas van eMalahleni is deel van dié groot geleentheid.

Vir sensei Leon van Vollenstee (sesde dan) het die groot eer te beurt geval om die nasionale span af te rig wat in Italië gaan deelneem. Hy het vroeër die week laat weet dat hy ook gaan deelneem.
In die span is nog twee seuns van eie bodem wat saamgaan om deel te neem.

Lwandisa Ndlovu (14) en sy ouboet Mlongisi Ndlovu (17) het albei bruin belde en hulle is ook in die span ingesluit.
Die span is al verlede jaar gekies en ure se harde werk, oefen, oefen en nog oefen om die antieke kuns onder die knie te kry is al ingesit.

Elke tweede Saterdag word daar deurgery Pretoria toe waar sweet diep spore in die hoof dojo agterlaat.
Sensei Leon, die assistent hoofafrigter van JSKA Suid-Afrika het gesê daar is net een doel voor oë en dit is om wêreldkampioene terug te bring van Italië af.

“Die span bestaan uit die room van die oes. Al die karatekas wat saamgaan het al deur en deur bewys hulle verdien om daar te wees. Ek weet ons gaan Italië toe om te wen,” het sensei Leon gesê.

Hy het gesê hy en die span dra gereeld wit belde om hul ghi’s (karatepakke) om hulle te herinner aan die harde werk wat hulle elke dag insit om te bereik wat hulle ten doel stel.

Die kampioenskappe vind in die skilderagtige dorp Terni plaas.

Back to top button