Local sportSport

Driekuns vir Shumba Ferro’s

Die Harlequins-, Benoni- en Boksburg rugbyspanne het die afgelope naweek eerbiedig die knie teen Shumba Ferro’s gebuig.

Die plaaslike klClun wat met drie spanne, Shumba Ferro’s derde span, Lorent Ferro’s XV en Shumba Ferro’s eerste span, aan die Delmas Rugbydag deelgeneem het, het Saterdag 22 Februarie reeds kwaliteit rugby gewys wat verwag word in die opkomende Cell C gemeenskapsbeker-toernooi.

Ferro’s se eerste slagoffer vir die dag was Harlequins se tweede span wat slegs een keer agter die pale toegelaat is vir ’n skaam drietjie teenoor die trio van drieë deur Ruhan Bekker, Arron van Rihjn en Damian Bezuidenhout van Ferro’s.

Juandré Schmidt het vier punte by die telling gevoeg met twee suksesvolle doelskoppe om die telling na 19-5 op te skuif.
Benoni se tweede span kon die warrelwind van agt drieë deur Lorent Ferro’s XV net nie keer nie. Hulle moes so verdedig dat hulle skoon vergeet het om hul eie punte aan te teken. Lorent Ferro’s XV se drieë is deur John St John (2), Neil Bronkhorst, Conrad Bouwer, Ruhan Bekker (2), Damian Bezuidenhout en Junior Laas gedruk. Juandré het die skopskoen vir die span ook aangetrek en met drie doelskoppe geslaag.

Die hoof voorwedstryd vir die dag is opgewonde ingewag. In die wedstryd het Ferro’s se eerste span teen Boksburg te staan gekom wat die Valke in die gemeenskapsbeker-toernooi verteenwoordig.

Ongenaakbaar is die woord wat die wedstryd die beste omskryf.
Die wedstryd is teen ’n geweldige pas gespeel met genadelose verdediging. Beide spanne se spelers wou vir hul afrigters wys dat hulle raakgevat het met die gemeenskapsbeker spanne en dit het gelei tot rugby van hoogstaande gehalte.

Ferro’s het eerste bloed geruik na aanhoudende fase spel en MC Botes oor die doellyn gedryf vir die eerste drie.
Boksburg het drie punte op die telbord gesit met ’n strafskop by die afbreekpunt.
’n Lang aanval wat deur verskeie fases aanmekaar gesit is het toegesien dat Christiaan Els al die verdedigers na hom toe trek om Jean Botha deur ’n gat te stuur vir ’n prag-drie regs langs die pale.

Boksburg het so skuins voor halftyd ’n drie pasella gekry toe Ferro’s se agterlyn bietjie lateraal hardloop en die onderskep drie feitlik op ’n skinkbord vir Boksburg gegee is .

Die spanne het halftyd gaan rus met Ferro’s wat 12-7 voorgeloop het.
Boksburg het die tweede helfte met ’n verwoede aanslag begin en Ferro’s se verdediging tot die uiterste toe beproef. Maar keer op keer het ’n Ferro’s speler sy lyf in die pad van die makro agttal van die Oos Rand geplaas. Dit was veral Jackie Smit, Willie van der Merwe en Izan Green wat heel voor in dié linie geveg het.

Met nog ’n stukkie briljante omkeerbesit het Ferro’s die bal gewen en Tommy Collen het ’n skoppie opgeklits wat hyself opgevolg en onder die pale geplant het. Met Dewald Pieters en Jannie van der Merwe wat verantwoordelik was vir die skoppe het Ferro’s die harde wedstryd hul eie gemaak met die telling op 21-10.

Ferro’s speel op 8 Maart tuis in die eerste wedstryd van die Cell C gemeenskapsbeker teen Boland Wesbank. Die dag gaan propvol rugby wees en toeskouers word uitgenooi om hul klub te kom ondersteun tydens hierdie geskiedkundige wedstryd.
Voorwedstryde begin reeds om 12:45 wanneer Ferro’s teen Kriel kragte meet in die Puma-liga.

Back to top button