Local sportSport

Ferro’s wys staal in sewes-toernooi

Shumba Ferro’s het hul tande behoorlik in die sewes-toernooi die afgelope naweek ingeslaan.

Hulle het Saterdag 25 Januarie drie uit hul vier ligawedstryde ingepalm tydens die sewes-toernooi wat op die Kees Taljaard Stadion aangebied is.

Van meet af het die span alles op die tafel gegooi en as dit die standaard is waarmee hulle die res van die seisoen gaan aanpak, kan toeskouers hulself voorberei op uithaler skouspel rugby.

Ferro’s het Saterdag afgeskop met ’n vriendskaplike opwarmingswedstryd teen Steval Pumas wat onder die naam Jimmy Stonehouse uitnodigingspan gespeel het.

Die besoekers van Nelspruit het die wedstryd 5-21 gewen, maar dit was nie maklik nie. Hulle moes werk vir die 21 punte wat Ferro’s nié so maklik afgegee het nie.

Hul eerste wedstryd vir die toernooi was teen die 2013 kampioene, Sasol.

Hier het die manne van eMalahleni van die begin af harde rugby gespeel en die span van Sasol op alle fasette van die wedstryd oorheers. Sasol kon eers in die laaste asem van die wedstryd deurbreek om hul enigste drie te druk.
Ferro’s het die wedstryd oortuigend 31-7 gewen.

Witrivier was hul volgende slagoffer en Ferro’s het die wedstryd 22-19 gewen. Ferro’s het vier vinnige drieë gedruk, maar kon nie daarin slaag om drie van die drieë te verdoel nie. Witrivier het in hul nek geblaas en drie drieë gedruk waarvan net twee verdoel was.

Hulle het gou hul balans herwin en Nelspruit nie ’n kans gegun om eenkeer agter die doellyn te gaan kuier in die semi-finaal nie. Nelspruit moes maar druipstert 21-0 van die veld afstap.

Die finaal teen Middelburg was ’n naelbyt-wedstryd en hier het Ferro’s bietjie klei getrap.

Teen rustyd kon die wedstryd na en enige kant toe kantel met die spanne wat elk 12 punte op die telbord gehad het. Maar swak afronding by die afskoppe en twee verlore skrums het Ferro’s die wedstryd deur hul vingers laat glip en die eindtelling was 19-27.

Ferro’s gaan nie kans kry om stil te sit nie. Die volgende sewes-toernooi vind op 8 Februarie in Nelspruit plaas. Daar word reeds hard geoefen en voorberei en dit is terug tekenbord toe vir spelers en afrigters.

Back to top button