LettersOpinion

Van Witbank tot Stinkbank

Graag wil ek my teleurstelling uitspreek met die situasie rondom die Klipfonteindam area en die gesondheidsgevaar wat ons as inwoners van die stad in die gesig staar.

By Klipfonteindam is dinge uiters sleg met riool wat die area so besoedel met verstopte riool wat dood eenvoudig toegelaat word om die hele terrein aan die weste kant te besoedel.

Het die Stadsraad vergeet dat E. coli en ander verwante siektes mense baie siek en selfs doodmaak as jy besmet word met hierdie virus? Ek glo die Stadsraad het ’n plig om sy inwoners te waarsku as hy (Stadsraad) ’n gesondheidgevaar skep en dit nie beheer of regstel, of dit onmoontlik maak vir mense om daarmee in aanraking te kom nie.

Hulle kan verantwoordelik gehou word vir enige kostes as gevolg van hulle eie nalatigheid sou iemand dalk siek word. (Wonder net of die amptenare wat met die skoonmaak gaan help Hepatitis inspuitings gaan kry.)

Ek wil graag ’n uitnodiging rig dat die betrokke hoof van die departement verantwoordelik vir die riool, self kom kyk wat aan gaan in die westekant van die dam.

Graag wil ons hom ook uitnooi om sy middagete saam te bring en sien of hy dit kan eet saam met die stank wat ons elke dag moet inasem. Ons woon in Tempostraat en die stank is party dae onuithoubaar om nie eers te praat van die vlieë- en brommerplaag nie. Ag nee, ek het vir 36 jaar in Witbank gewoon en die laaste vier jaar in Roossenekal.

Ek is nou vier maande terug, maar wil sê julle kan by Roossenekal Stadsraad gaan leer wat is skoon drinkwater en goeie rioolbeheer.

Ek hoop julle sal antwoorde kan gee en nie net weer leë beloftes aan die bekommerde inwoners nie.

Die riool by Klipfonteindam.
Die riool by Klipfonteindam.

Back to top button