BlogsOpinion

Kloue af, dis my neseiertjie

Ek dink ons almal was dit maar te wagte gewees

Dit het nie lank gevat voor die bom ontplof het nie.

Ek dink ons almal was dit maar te wagte gewees.

Die bankrot regering wil ons pensioen steel.

Hulle wil hul klewerige kloue in ons spaargeldjies vir ons oudag steek en vat.

Die staat kon tot dusver nie een van hulle ‘besighede’ laat werk nie, hulle geld is op en nou soek hulle ander neseiers wat hulle kan plunder.

Die uitsaaier is bankrot, Eskom spartel om die ligte aan te hou, Transnet is kapoet, die lugdiens se vlerkies is geknip, die mislikepaliteit is bankkrot, die openbare gesondheidsorg wankel op die randjie van die afgrond, en so kan ons aangaan.

Die staatsentiteite is nie net bankrot nie, korrupsie soek ook sy deel van die ‘pie’.

Miljarde Rande word jaarliks gesteel, verkeerde besigheidsbesluite soos Kusile en Medupi word geneem, werkloosheid groei en nou soek ek ’n slukkie van die Engelsman se ‘ietsie’ met ‘eish’ want my ‘eish’ is nou uit.

Maar, ek is nog nie klaar nie, meer as 17 miljoen Suid-Afrikaners is tans afhanklik van maatskaplike toelae.

Daar is meer mense afhanklik van hierdie toelae as wat daar Suid-Afrikaners is wat werk het.

Vir die van ons wat aan ’n pensioenfonds behoort en baie hard werk om op te bou vir ons oudag, gaan hierdie ’n harde slag wees.

Dit word gereeld uitbasuin dat Suid-Afrikaners nie kan spaar nie.

Wel ek wil nie, want ek weet nie of my hardverdiende geldjies veilig gaan wees nie.

Ek dink ek moet maar my sentjies onder my matras wegsteek.

Toe die Engelsman sy glasie uit my hand neem, waarvan ek nou al meer as die helfte gesluk het, kom hy weereens met sy wonderlike siening vorendag, “Die regering moet net die geldjies wat met Bosasa en die staatskaping gebuit is, invorder en terugploeg, dan sal die land se ekonomie sommer ’n stewige inspuiting kry.”

Op dieselfde rustige noot seg hy toe,

“Dis nou tyd vir die groot kanonne soos Gerrie Nel om dié besluit van die regering in die hof te gaan toets.”

Wel Gerrie Nel, my hoop is op jou.

Ek en die Engelsman wil baie graag eendag by die see gaan aftree.

Ek wil stories skryf en hy wil visvang.

Ons het nie miljoene nodig nie, ons wil net die sentjies hê wat ons so hard aan gewerk en gespaar het.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button