BlogsOpinion

Meer tyd om te dagdroom

Dis nie net die Japanese wat alles robotiseer nie

’n Aktualiteitsprogram die afgelope naweek het die ratwerke in my gedagtes volstoom aan die werk.

Die vraag was, wat sal jy doen as robotte so ver gevorderd word dat die mensdom nie hoef te werk nie?

Kundiges glo nou dat bykans 50% van beroepe wat tans bestaan, teen 2025 geheel en al oorbodig sal wees namate kunsmatige intelligensie voortgaan om besighede te transformeer.

Die Japannese regering het ’n verslag vrygestel waarin hulle ’n samelewing voorspel waarin robotte teen 2025 saam met die mens sal woon en as versorgers sal optree, kinders sal help grootmaak en huishoudelike take sal uitvoer.

Navorsers hoop dat daar teen 2050 ’n sokkerspan sal wees wat uitsluitlik uit robotte sal bestaan en ’n span van mense sal kan klop.

Dis nie net die Japanese wat alles robotiseer nie.

Megaboere in Suid-Afrika het meestal gemeganiseer geraak en robotte plant en oes reeds.

Motorfabrieke het lankal die stap geneem en gebruik nie meer handewerkers nie.

As jy kyk na al die protesaksies by myne, kragstasies en selfs in die plaaslike munisipaliteit is ek die eerste om die idee van robotte wat alles doen te ondersteun.

Kan jy jou indink, geen optogte nie, geen paaie wat versper word en geboue wat gebrand word nie en geen salarisverhoging eise nie.

Emmawillielênie sal ook baat. Vullis sal op tyd verwyder word, slaggate oornag gevul word, gebarste waterpype sal dadelik hertel word en Eskom sal betyds betaal word.

Dink net straatligte wat werk, water in krane, rekeninge wat betyds uitgestuur word en dis boonop akkuraat, dit klink soos ’n feëverhaal.

Terwyl ek na die praktiese sy van die nuwe tegnologie kyk grinnik die Engelsman terwyl hy ‘eish’ in sy glas gooi.

“Meer tyd vir rugby, lang ritte op motorfietse en ’n robot met ’n wit handdoekie om sy arms aangetrek soos ’n ‘butler’ wat sorg dat my glasie vol bly.”

Ja-nee, dié Engelsman van my sal elke vrye minuut tot sy beskikking ten volle benut.

Back to top button