BlogsOpinion

Dit sal weer goed gaan

Dit laat my dink aan die Amerikaans Cherokee-legende oor ’n seun wat antwoorde soek

Ons lewe is ’n mosaïekbeeld wat saamgestel is uit positiewe en negatiewe gedagtes.

Dit laat my dink aan die Amerikaans Cherokee-legende oor ’n seun wat antwoorde soek nadat hy op ’n emosionele wipplank ry. Sy oupa het hom vertel dat daar binne elkeen van ons twee wolwe leef.

Die een is goed, passief en doen niemand kwaad aan nie.

Hy is vol vreugde, liefde en deernis. Hy baklei net wanneer hy moet.

Die ander is ’n bakleier wat se denke deur woede oorheers word. Hy is vol hartseer, jaloesie en afguns.

Dit is soms moeilik om saam met beide wolwe in jou te leef. Die seuntjie het opgekyk en gevra, “Watter een wen?”.

Sy oupa se vyf woord antwoord som op waaroor ek vandag my ink wil laat vloei, “Die een wat jy voed.”

Soos baie ander is Eskom se beurtkrag net die laaste strooi wat ek nodig het om te ontplof.

As die water nie af is nie, is die krag af. Jy is gelukkig as albei in jou huis aan is. Voeg daarby die slaggate en vullis wat op straathoeke ophoop en ek kan ure lank mor en por oor die toestand van ons stad en ons land.

Ek was opsoek na antwoorde oor ons waternetwerk toe ’n man, wat ek graag anoniem wil hou, aan my voorgestel is.

Ons het letterlik gery en kilometers se waterpype gevolg terwyl hy die hele netwerk aan my verduidelik het.

Van die hoogste punt in die stad tot op die laagste punt het hy alles vir my uitgewys.

Met al die negatiwiteit waaroor ons sopas gesels het, neem hy al die wind uit my seile met die volgende woorde, “Ek het hoop vir ons land. Dit sal weer goed gaan. Daar sal weer werk wees, ons lande sal weer vol mielies en koring staan.”

Ek was sprakeloos. Hierdie man het my net daar laat rem trap.

Met die soetetjie in die hand vertel ek die Engelsman, wat sy Whiskey en ‘eish’ met water geniet, van my ontmoeting met die man en die gesprek wat heeldag in my gedagtes skoppelmaai ry.

Nes ek dink ek is sprakeloos gelaat, neem die Engelsman die oorblywende woorde uit my gedagtes toe hy sê

“Dan moet ons die goeie wolf in ons ‘force feed’ met positiwiteit sodat ons ander oorkant kan oortuig dit sal weer goed gaan in ons land”.

Back to top button