Water, toilette, vullis en sekuriteit

Nuwe besems vee altyd skoon, nuwe moppe was altyd skoon, nuwe verestoffers stof altyd skoon af en nuwe burgemeesters moet maar altyd die beste voetjie voorsit

Nuwe besems vee altyd skoon, nuwe moppe was altyd skoon, nuwe verestoffers stof altyd skoon af en nuwe burgemeesters moet maar altyd die beste voetjie voorsit.

My lipstiffie het nog nie eers die rand van my wynglasie onderteken nie toe die Engelsman lostrek.

Hy seg so ewe dat hy kan sien Mamma Linah is besig om Emmawillielênie skoon te maak. Die gras word gesny, eilandjies skoongemaak, ligte vervang en so meer Maar wat die gewone man op die straat nie sien nie is wat agter die skerms aangaan nie.

Daar word nou naarstigtelik gesoek na iemand om Mr-Fix-It se ou skoene vol te staan. Die aansoeke is al ontvang en ek glo gesif.
Een van die kandidate is al ’n ou hand in dié mislikepaliteit. Onder haar skof is daar so bietjie geskommel aan onder andere sekuriteit tenders en asbliklorries aangekoop wat nie in die munisipaliteit sou kon werk nie, want ons het net gewone asblikke, nie daai ’fancy’ goed op wiele nie.

Sy is toe gevra om haar laaitjies leeg te maak en die kantoordeur agter haar toe te maak. Gerugte is dat sy so ’n ou meervalletjie bewimpel het, ’n goue handdruk.

Dink sy nou wraggies die mense het vergeet van die sekuriteit- en vullis debakel?

Kort op die aansoek se hakke is dit ook kommerwekkend om te hoor dat die moontlikheid bestaan dat die man wat verantwoordelik was vir die Viljoenskroon toilet saga – waar die munisipaliteit R6 miljoen betaal het om buite toilette toe te bou – ook aangestel gaan word in Emmawillelênie. Op sy deur gaan die benaming Direkteur Tegniese Infrastruktuur en Basiese Dienste pryk. Hy moet net gou besef dis nie baie tegnies om uit te werk hoeveel dit gaan kos om buite toilette toe te bou nie.

Fonteintjie, uit jou sal ek nooit weer drink nie, dis seker wat die twee kandidate gedink het toe hulle die laaste keer water hier in Emmawillielênie gedrink het.

So klingel die ‘eish’ in die Engelsman se knertsie whiskey en seg hy so ewe gedwee, “moontlik het hulle so bietjie te veel whiskey by die water gegooi en vergeet van die sekuriteit, vullis en toilette.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version