Water, blaarslaai en sweet

2017 hang iewers in die gisters rond, terwyl 2018 reeds fluks aan die gang is.

2017 hang iewers in die gisters rond, terwyl 2018 reeds fluks aan die gang is.

Saam met die woord fluks kan my nuwejaarsvoorneme in een sin omskryf word, ‘ek gaan fluks oefen om maer te word.

Ek was van die begin af baie realisties oor die voorneme. Ek kan nie sewe dae ’n week in die gym rondhang tensy ek daar werk nie. Dus het ek myself voorgeneem om meer water te drink, gesonder te eet en ook by ’n ‘bootcamp’ aan te sluit.

Stap een: Water. Daar is droogte in die Kaap en hier sit ek en suip liters water ’n dag uit. Daarom, om water te spaar en my eie gewete te sus, het ek myself voorgeneem om net een liter water ’n dag te drink.

Stap twee: Eet meer gesond. Ek pak nou vir my vrugte in en eet elke middagete ’n slaaitjie wat ek self maak. Daar is soveel blare in dat selfs die boerbokke kwyl. Maar, die Engelsman het sy voet neergesit, ek moet maar my ou bleek hoenderstukkie apart stoom. Hy seg daar is niks fout met sy ‘unique-physigue’ nie en daarom verkies hy sy kos op ouma se boeremanier gekook met aartappels, lekker bruin gebraaide hoender en groente met botter en aartappels in.

Wanneer die middag gaan skuinslê raak ek nou lus vir ’n ‘kou-dingetjie’. Ek hoor die geluid van die papier as dit van sjokolade afgetrek word, die rinkel van ’n chips-pakkie, selfs die reuk van slaptjips met sout en asyn maak my mal. Sover is die wilskrag daar en ek ruik dan maar uit na die appel wat op my tafel lê en vir my grynslag.

Stap drie. ‘Bootcamp’. Ek sterf stadig, ek voel vandag soos ’n stokmannetjie wat met ’n stomp potlood geteken is. Ek was so dankbaar vir die welkome reën verlede week, dan is daar nie ‘bootcamp’ nie. Ek is nie Caster Semenya nie, ek is ook nie ’n gimnas nie. Ek is die middeljarige tannie wat hyg, swets, kreun en steun.

Ek hoor die instrukteurs met hul rietskraal lyfies êrens tussen die newels ritmies sê, “eight, seven, six, five, come on ladies you can do it, four, three, two, one.”

Tussen borspyne en die proses om myself te ontknoop het ek besluit ek gaan volhou met die strafkamp.

Daar is oumas met lyfies wat menige jong meisie jaloers sal maak en ek, ek is die ouma met die baie ekstra kilo’s wat sweet en die ‘kill-a-granny bootcamp’ gaan laat werk.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version