Geen water vir tee nie

Vir ’n wonder is daar lewe in Eksdom se netwerk en ek en die Engelsman benut hierdie rare bonus terdeë.

So ongeveer twee weke gelede, sit ek en die Engelsman voor die TV en krieket kyk. Nee, ons het nog nie die nuutste tegnologiese uitvindsel, ’kassie wat met petrol werk’, nie. Vir ’n wonder is daar lewe in Eksdom se netwerk en ek en die Engelsman benut hierdie rare bonus terdeë.

Maar nou is daar nie water nie. Net die Engelsman se spaarwater vir sy knerts. Omdat dit nou verbode is om tee te maak, sit ek met ’n soetetjie. Dit is toe dat die Engelsman opstaan vir ‘n hervulling met eish en water, dat hy vra of ek weet watse dag is dit vandag.

Ek sê toe vir hom dit is Sondag en om presies te wees 15 Oktober.

“Nee” seg die Engelsman, “ek bedoel watse dag. Vandag is tuindag,” beantwoord hy sy eie vraag.

Kyk, van nasionale tuindag het ek nog nie gehoor nie. Ek weet dat my Ouma altyd gepraat het van wasdag of blou Maandag, maar van tuindag weet ek niks. Toe val dit my by dat ek al van dae soos familiedag gehoor het. En as ek reg onthou het ek al van braaidag, boomplantdag en van sulke dae gehoor.

Sal my nie verbaas as daar iewers in die jaar plek gemaak word vir ’n skoenvasmaakdag, ’n boomkapdag, ’n grassnydag of ’n motorwasdag nie. In plaas van sulke onbenullige dae, hoekom is daar nie iets soos ’n gewete dag nie? Dan kan die ‘boggers’ wat ons land so leeg steel, vir ’n wyle gaan sit en toelaat dat hulle gewetes hulle pla, so pla dat hulle besluit om al die gesteelde biljoene terug te gee. Dan kan diegene wat verantwoordelik is vir moorde op boere en andere, se gewetes hulle so pla dat hulle hulself aan die gereg oorgee, want as dit van ons hopelose polisiemag afhang sal daardie moordenaars nooit vir hulle dade boet nie.

Dink net daaraan dat die klomp staatkapers se gewete hulle so pla dat hulle hul Benzes en Jeeps sal verkoop en saam met al die geld wat hulle deur korrupsie bekom het aan die staat sal teruggee. Dan hoef hulle ook nie bekommerd te wees oor die dag van vergelding wat gaan kom nie, klam en donker sel en ryswater waarop hulle moet leef nie. Maar dit is alles net wensdenkery. ’n Gewete dag in Suid Afrika? Wat ’n grap! Miskien sal dit nie ’n grap gewees het as hulle gewetes gehad het nie.

Miskien moet ek ook aan die Engelsman se gewete werk, want nou moet ek ’n soetetjie drink, want sy gewete pla hom as ek water ‘mors’ vir tee.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version