Wat erf ons kinders?

Oor ’n paar weke word Erfenisdag in alle erns gevier

Oor ’n paar weke word Erfenisdag in alle erns gevier. Dis ook Nasionale Braaidag en almal word aangemoedig om hul vure aan te steek en ietsie op die kole te gooi.

Erfenisdag beteken dat niemand moet vergeet wie en wat hy is en waar hy vandaan gekom het nie. Elkeen moes op dié dag sy eie kultuur, geskiedenis vier. Maar dit is juis dié konsep wat hardhandig in my kop kom spasie maak het. Ek onthou hoe ons as familie altyd kus toe gery het en ons, ons vergaap het aan die pragtige natuurskoon soontoe. Dan het ons langs die pad gestop en gesmul aan gekookte eiers, broodjies, stukkies wors, en koeldrank. Maar dit was toe.

Watse stukkies onthou-oomblikke gee ons vir ons kinders. Eendag gaan ons kuikens se kuikens ook ’n stukkie beeshaas marineer en sorg dat daar genoeg ys is vir hul knertsies op Nasionale Braaidag. Hoofopskrifte gaan uitskree ‘onthou wie jy is en waar jy vandaan kom!’’Hulle gaan dan moontlik rustig gesels oor hul erfenis. Kom ons kleur die prentjie in. eMalahleni is in ’n wolk van lugbesoedeling omhels. Dikwels is die paaie onbegaanbaar, want gemeenskappe blokkeer al die paaie as hulle kwaad is vir die munisipaliteit.

As daar op dieselfde dag water en elektrisiteit in jou krane was, was dit ’n reuse bonus. As die paaie rybaar is sou jy tien teen een twee of drie bande verloor in slaggate. Eskom glo aan kwaliteit-familietyd en het dikwels die krag afgesit sodat families bymekaar kan sit en gesels oor elke-dag-dingetjies.

Elders in die wêreld is lande besig om te oorstroom en aarbewegings en vulkane gee uiting aan hul woede omdat die mens besig is om die aarde te verkrag.Dis nie juis die mooi prentjie wat ek wil hê my kuikens moet eendag vir hul kuikentjies vertel nie, maar dis die harde werklikheid.

Ek hoor die Engelsman se ‘eish’ rinkel in sy glas. Seg hy so ewe droog, “Ek glo nie ons kuikens se kuikentjies gaan op Erfenisdag om ’n vuur sit en gesels nie, vandag se kuikens kommunikeer mos met Whatsapp, hulle sal elkeen by hul eie vuurtjie sit en vir mekaar boodskappe stuur.” As onse kuikentjies maar net weet wat hulle mis…….

*Ons wens al ons leser ‘n gelukkige Erfenisdag toe. Lekker braai!

Exit mobile version