Dankie vir wat ons het

’n Baie swaar donker kombers hang oor eMalahleni en dis nie om die koue uit te hou nie.

Die nuus dat Highveld Steel van hul mense moet aflê omdat hulle in moeilikheid is, het die stad soos ’n onverwagse dwarsklap getref.

Staal invoerpryse het gedaal en dis nou skielik goedkoper om staal in te voer as om dit plaaslik te vervaardig.
Ek weet iewers is daar mense wat die groter prentjie sien, maar hierdie kant sien ek die bekommerde gesigte.
Hierdie kant sien ek ’n pa wat bekommerd is omdat hy nie sy kar- en huis paaiement kan betaal nie. Ek sien ’n ma wat stilweg bid want sy moet ’n ete voorsit vanaand.
Ek sien klein besigheidseienaars wat self noustrop trek en nie weet of hul besighede se deure nog môre gaan oop wees nie.

Hierdie somber prentjie word ook in Vereeniging gedeel met ArcelorMittal SA wat ook deur die Chinese se invoerpryse geraak word.
Verlede week het ek met ’n vriend gesels oor die hele Highveld storie en sy weergawe het my in ’n ietwat anders denkwyse ingedwing.
Hy het genoem dat besighede té lank die heuning uit die pot geskep het en baie geld uit nie net Highveld nie maar ook omliggende myne gemaak het.

Hy is van mening dat besigheidsmense skielik geld gemaak het en toe dadelik ’n nuwe kar of huis aangeskaf en duur vakansie gehou het en nie geld opsygesit het nie.
Volgens hom was dit té maklik om te ‘invoice’ en die geld was gou in die bank.
Behalwe dat die situasie baie negatief is, het hy genoem dat dit nou die ideale tyd vir jong entrepreneurs is om deel van die sakewêreld te word.

Een goue reël waarin hy glo is dat dié entrepreneurs in hul werkers moet belê en ook terugploeg in hul eie besighede.
eMalahleni is skielik op sy kop gedraai en daar lê nog ’n lang pad vol duwweltjies voor.
Ek drafstap vinnig deur die week se kolom want ek wil nie hê die mense moet sien wat in my hartkamers aangaan nie. Al die simpel dinge in my lewe lyk nou soos klein jakkalsies teenoor die Highveld werkers se situasie.
Maar vandat ek met my vriend gesels het, is daar weer bietjie hoop en glo ek vas dat dié situasie net tydelik sal wees.

Soos die Engelsman my tereggewys het, ‘Kom ons besin oor ’n knertsie en wees dankbaar vir wat ons het.’

Exit mobile version