Genadelose Jan

Die Jan Taks is vir jou ’n ander kêrel wat vreemde somme maak.

Jy betaal die keiser wat hom toekom, maar omdat sy somme nie klop nie, gee hy weer van die geld terug.
Ek het ook verlede week ’n besoekie by Jan Taks afgelê. Maar nes ek was daar ook honderde ander wat ook by die keiser gaan kuier het.

En ek het gedink ek is ’n bietjie slimmer en 06:30 op ’n koue Donderdagoggend toe gaan staan ek in die ry saam met honderde ander. Ons het amper gelyk soos lammers op pad slagpale toe.
Daar was nie eers ’n ou glimlaggie by my of die honderde ander te bespeur nie, inteendeel almal het maar ietwat bekommerd gelyk.

Ek dink dis die ek-weet-nie sindroom wat almal omhels het wat die ‘mood’ van mistroostigheid geskep het.
So het ons treetjie vir treetjie aangeskuifel. Tot die ’musical chairs’ speletjie begin het.
Jy staan op en skuif na die volgende stoel toe sodra iemand deur ’n konsultant gesien word. Stoel vir stoel het ons gevorder sonder enige musiek in die agtergrond, net die gebrom en gemor van die lammers.
Uiteindelik het ek die laaste stoel bereik en ’n baie vriendelike konsultant was slaggereed om te help.

Ek was vanjaar gelukkig en Jan Taks skuld my ’n paar sente, die Engelsman aan die ander kant het nikssiende voor hom uitgestaar terwyl hy met ’n knertsie in sy hand oor en oor die belastingman verwens het. Hy skuld ou Jan ’n paar rand. In ’n neutedop daar is slim mense by Jan Taks wat hom daarop wys as jy nie genoeg van jou bloedgeld vir hom gegee het nie. En as jy nie betaal nie, vra die Taksman rente op die geld wat hy verkeerdelik nie gevat het nie en stry en baklei help niks, betaal jy dit nie, kom daar weer rente op die rente.

Ja seg die Engelsman, Jan Taks eis sy pond vleis en in sy beswaarde gemoed het hy besluit Jan Taks gaan beslis nie ’n Bells van hom af kry nie….

Exit mobile version