Vir Retha

Hoe sê jy ‘goodbye’ vir ’n vrou wat so ’n belangrike rol in jou lewe gespeel het?

Vandag is daar seer in my hart. ’n Wonderlike vrou, mentor en vriendin is Sondagaand dood nadat sy die stryd teen kanker verloor het.
Retha Pretorius het net nooit gekla nie, alhoewel ek weet die pyn het haar van binne af opgevreet.
Haar antwoord was altyd dieselfde, ‘Dit gaan goed, ons is so ‘gebless!’

Vanoggend sit ek voor die bokse van herinneringe en pak hulle een vir een uit. Ek het Retha die eerste keer ontmoet toe ek ’n onderhoud met haar wederhelfte, Marius, gevoer het.
Dit was haar opregtheid in haar oë wat jou oor jou diepste eina’s laat gesels het.
Ek hoor nou nog haar stem tydens ’n vinnige geselsie, ‘Jy kan opstaan, al het jou hart in stukke geskeur. Luister, Hy klop nog steeds aan jou hart se deur luister, Hy is Jesus!’ het sy menige male vir my gesê.

Om die boksie van herinneringe wat ek spesiaal vir Retha eenkant hou, sit ek ’n bloedrooi strik. As ek bemoediging of trooswoorde nodig het gaan ek daai einste boksie heel eerste oopmaak. Daarin is gebeds-oomblikke opgesluit.
In dieselfde sin dink ek terug na die misongelukke wat vroeër die week om Emmawillielênie plaasgevind het. Ek het op die toneel met ’n familie gesels wat onderweg was op vakansie. Binne sekondes het al hul planne verander. Daar was die wat op pad was werk toe, die wat vir vriende wou gaan kuier, die wat vir besigheid gery het en hulle het nie hul bestemming veilig bereik nie. Tog as jy terugstaan en die algehele prentjie bekyk is dit niks minder as ’n wonderwerk dat net twee mense tydens die ongelukke waarin 125 karre betrokke was, dood is nie.

Om op ’n ongelukstoneel te staan en trane af te vee, mense te vertroos, ’n kleinding te help om ’n baadjie aan te trek, want hy bibber van skok is ’n ondervinding wat ook in ’n boksie hoort.
’n Boksie waarom ek dié keer ’n spierwit lint draai wat getuig van God se genade.
Eendag gaan ek al hierdie boksies met hul verskillende kleure linte vat, uitsorteer en op ’n vervoerwa sit. Net dié wat spesiale linte om het soos ’n bloedrooi lint vir Retha en ’n spierwit lint vir God, die sal ek hou want dis daardie saak-maak boksies waarvoor jy plek moet maak as jy ‘spring-clean’.

Exit mobile version