1 + 1 = 5

Dankie tog ek ry nie ’n elektriese motor nie.

Ek kan myself net indink wat se konsternasie sou dit tot gevolg gehad het. Kan jy jouself indink mense wat toustaan om hul motors te ‘charge’.
As daar enige geïnteresseerde entrepreneurs is, is dit nou die kans om ’n ‘one-stop-electrical-charge’ besigheid te begin.

Eksdom lyk my is nog vasbeslote om die stad se elektrisiteit in geheel te sny en ons sit met die gebakte pere. Nee, laat ek dit anders stel ek kan die pere nie bak nie, daar is nie verdomde elektrisiteit nie.
Ek gesels met die Engelsman terwyl hy ‘eish’ in sy glas gooi. Met dié wat die winter op die voorstoep staan, vat die ’eish’ langer om te smelt dus is dit een probleem minder om aan te dink.
Die gesprek gaan maak ’n draai oor die nuwe ontwikkelings wat nou oral opskiet.

Ons dienste netwerke in die stad is verouderd en aangelap en ook ondoeltreffend. Tog word daar links en regs, oos en wes net huise aangebou.
Is daar niemand wat daar langs die mislikepaliteit se hooggeagte burgemeester sit en sommetjies maak nie.
Wat dikwels vergeet word is dat ons nie net sommer net huise kan bou nie, selfs al was ons fondse van so ’n aard, sonder die nodige grondwerk. Voor ’n huis gebou kan word moet die infrastruktuur eers daar wees.
’n Baie bekommerde inwoner het die sommetjies gemaak en seg dat ’n minimum van 525 000 liter water nodig gaan wees om die inwoners van die sowat 3 500 nuwe huise langs Jackaroopark se dors te les.

Sowat 400 tot 500 kiloliter se poef moet ook êrens heen wegspoel, ag wat van die naaste rivier, die Olifantsrivier.
Om nie eers te praat van die volumes karre wat nou van die ou-Middelburgpad gebruik gaan maak nie.
Die paaie maak nou nie eers voorsiening vir die verkeer nie, wat van 3 500 karre ekstra?
En dit bring my tot die grootste bekommernis van als, elektrisiteit.

Die inwoner, wat nog nie eers ’n knertsie saam met ons gedrink het nie, het gesê dié inwoners van die nuwe ontwikkeling gaan sowat 17 500kw elektrisiteit nodig het.
Die mislikepaliteit se ‘Mr Fix-it’ het vroeër die week gesê hy moet van êrens af R106-miljoen voor Donderdag kry om Eskom gelukkig te hou.
Dis na die insiggewende geselsie wat ek die Engelsman se whiskey gryp en ’n groot sluk vat, ek het gedink ek kan nie my ‘budget’ laat klop nie, die mislikepaliteit en die iemand langs die mislikepaliteit se hooggeagte burgemeester kan nog minder as ek optel en aftrek.

Exit mobile version