En so oorleef ons in donker Emmawillielênie

Die mislikepaliteit se wiele het afgeval en dit alles is te danke aan diegene wat nie hul rekeninge vereffen nie.

En toe daar nou gepoog word om hulle te leer hoekom dit so noodsaaklik is om jou erfbelasting en dienste rekeninge te vereffen toe toi-toi hulle.
Hier kan ons net nie wen nie, en die feit wat soos ’n paal bo water uitstaan is dat ons Eksdom se woede gaan voel, want hulle gee nie ’n hel om of ons as verbruikers betaal nie, hulle ‘worry’ net of Emmawillielênie haar tjekkie gestuur het.

Die Engelsman het sy knertsie met ‘eish’ bekyk, ’n vinnige sluk gevat en so met die sluk saam geseg ek moet my indrukwekkende versameling kerse maar loop uithaal en hom elke aand maar verras met ’n kersligete. Hy dink nie eers aan die populasie-ontploffing wat gaan plaasvind as elke vrou haar manlief elke aand met ’n kersligete verras nie. Ek weet nie wie gaan sorg vir die agtergrondmusiek nie.

Ons gesprek lei daartoe dat ons later so lag, Eksdom, Emmawillielênie en hul probleme is iets van die verlede.
Ons gaan ons braaier in die sitkamer insleep. Met als in donker gehul raak dit gevaarlik om buite te braai, en ons kan die huis warm maak. Ek hoop net die knusheid van ’n binnenshuise braai vat nie spreekwoordelik vlam nie. Ek stel toe voor ons nooi ons sekuriteitsmaatskappy se reaksiespan elke aand vir ’n braai, so het ons mos beskerming teen die magte wat daar buite rondsluip.

Die Engelsman stel voor ons hang ’n noodknoppie aan elke hond se nek, elke keer as hulle blaf sal die reaksiespan wat nou baie gesellig in ons sitkamer saam met ons braai, dadelik op die toneel wees.
Ons gaan probeer om spesiale versekering uit te neem om ons selfoonrekeninge te betaal, skielik het ons nou tyd om met al die langverlore familie en vriende te gesels en dit kos ’n paar rand. So van versekering gepraat, ons sal by ons makelaar moet uitkom, of hom nooi om saam te braai, om te bevestig wat deur ons polis gedek word tydens die kragkrisis.

Na al die gelag en gesels biep iets iewers in die stikdonker huis, die selfoon is pap, die skootrekenaar is pap, die alarm se battery is pap en die pap gaan nog brand tot Eksdom eendag gaan privatiseer.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version