BlogsEditor's noteOpinion

Legkaart van die lewe

Hulle sê kinders is wreed, meer ek glo nie daar is iets meer wreed as oningeligte mense nie.

Ek braak gal oor die wat verlede week nie vinnig genoeg kon kommentaar lewer na die video en foto’s wat op ons webblad geplaas is na die hartseer voorval van ’n 17-jarige seun wat deur weerlig doodgeslaan is nie.
Meneer en mevrou jy gooi so vinnig klippe, ek wonder of jy reeds jou arsenaal opgebou het voor die insident, net reg om die drie jong joernaliste te bombardeer.

Julle was nie daar toe die joernaliste terug by die werk aangekom het nie. Julle het nie die trane gesien wat oor hul wange gerol het nie.
Hulle het sprakeloos na die foto’s en video gestaar, probeer sin maak uit die chaos.
Dit laat my dink aan ’n klomp mense wat soek deur legkaartstukke wat jare gelede op ‘n tafel rondgestrooi en net daar gelos is. Party soek na die stukke wat nie pas nie, ander soek na die stukke wat wel pas, ander begin eers deur die kante en die hoeke bymekaar te sit. Elke nou en dan kry een ‘n stukkie legkaart waarna hy of sy naarstigtelik gesoek het.
Die dood van die jong Francois Clarence is deel van ’n legkaart wat Jesus lankal gebou het. Ons sien nie die eindproduk nie omdat ons elkeen ons eie stukke moet vind en inmekaar laat pas.

As ons maar net die hele prentjie op die voorkant van die boks kon sien, hoeveel makliker sou dit nie wees om die legkaart te voltooi nie.
Daardie joernaliste wat julle met julle arsenaal klippe gegooi het, het stukkies van die legkaart inmekaar probeer pas om vir julle die verhaal van Francois Clarence te vertel.
Die kuns van die skryfwerk het te doen met die vind van daardie legkaartstukkies. Dit het te doen met die vind van ’n ongelooflike storie van ’n jongman wat ander se lewens soveel verryk het.

Die joernaliste het dit reggekry om die voorblad storie menslik te skryf sonder om dit sensasioneel te maak.
Maandag was die begrafnis gewees. Ek het eenkant gestaan en gekyk hoe ons joernalis steeds haar werk doen deur die waas van trane wat in haar oë opgedam het.
Ek het gestaan en kyk hoe sy woordeloos vir Francois Clarence se familie gebid het terwyl haar skouers ruk van die emosie wat in haar borrel.
Vandag sê ek vir jou meneer en mevrou met julle arsenaal klippe, opgestapel reg om te gooi, ons joernaliste is ook mense. Ons huil saam met die gemeenskap wanneer hartseer aan hul deur klop, ons lag saam met die gemeenskap wanneer iets goeds met hulle gebeur, ons is trots saam met die gemeenskap wanneer hulle iets bereik wat voorheen vir hulle net ’n droom was.

Vir die joernaliste, wat geskok die houe vat van die klippe wat julle aanhou gooi, ek het die hoogste agting vir julle. Julle het nie julle menslikheid langs die pad opgegee nie, julle is steeds hart en siel en ek is trots op julle.

Back to top button