BlogsEditor's noteOpinion

Konstabel Johnie maak ’n plan

Terwyl ek wag dat die Engelsman hom met sy glas in die hand in sy geliefkoosde stoel gemaklik maak, neem ek ‘n versigtige teugie aan die soetetjie in my glas.

Ek is al moeg vir stories oor die Mislikepaliteit en so raak ek en die Engelsman aan die gesels oor die dag en sy dinge.
Uit die aard van my beroep ontmoet ek baie en interessante mense. Maar die beroep wat seker die mees interessantste karakters oplewer, is die polisie. Daar is byvoorbeeld konstabel Pollie wat in die hotel in Matjiesfontein nie vir ’n drankie betaal nie. In die kroeg, met ’n bulderende stem soos E.T. vertel hy van die vyand wat ons Vaderland wil oorvat. Vir die ‘entertainment’ betaal die drinkebroers altyd sy drankies. Dan was daar ’n sersant Pierewiet en sommer vele ander karakters, maar ek wil die Engelsman vertel van oud-kaptein Johnie Senekal wat ek vandag ontmoet het.

In die vroeë sestiger jare het konstabel Johnie sy opleiding in die polisiekollege in Pretoria gedoen. Hy was ‘n kranige rugbyspeler, maar was deur sy pa, wat ook in die SAP was, gewaarsku om nie sy rugbytalente in kollege te toon te stel nie want, as sy talent geïdentifiseer was sou hy in Pretoria moes agterbly om vir Noord-Transvaal te speel. En geen Senekal speel vir Noord-Transvaal nie. Al het hy hoe gesmag om rugby te speel het Johnie maar begin jukskei speel.

Noord-Transvaal het nie juis jukskei spelers benodig nie, alhoewel daar ‘n hele paar spelers in die huidige Noord-Transvaal is, wat jukskei behoort te speel.
Om die rede is Johnie na sy opleiding na Ixopo, ‘n klein twee-man polisiestasie iewers in Suid-Natal verplaas. Hy en konstabel Hakkelongtong was die tweemanskap. Op Ixopo het net mooi niks gebeur nie. Vir dae wat weke, wat maande geword het, het die twee net mekaar se geselskap gehad. Al wat die saai roetine gebreek het was die drie maandelikse besoek van die kolonel en sy chauffeur wat vanaf Durban al die polisiestasies op die platteland besoek het. En ook net om in die dagboek te skryf, ‘Besoek, alles stil, en geen klagtes’ te teken en dan die pad te vat.

Die winter het nadergekruip en Johnie se lus vir rugby was al hoe groter en toe maak konstabel Johnie en Hakkelongtong ‘n plan. Toe die dag van die kolonel se besoek aanbreek het Johnie vroeg oggend bo-op die watertenk, wat die stasie van water voorsien het, met ‘n stok waaraan ‘n stukkie gare gebind was, gaan sit. Hakkelongtong wat mooi geskool was het in die aanklagkantoor gesit en gewag vir die offisier se koms.
Toe kolonel Buys in die aanklagkantoor instap het Hakkelongtong opgespring en hom gesalueer. “Wat gaan aan met konstabel Senekal,” vra die kolonel.

“Meneer, groot probleem. Konstabel Senekal sit al vir drie dae daar bo-op die tenk. Hy vang glo vis en wil nie gesteur word nie. Ek dink dinge by sy kop is nie meer lekker nie. Hierdie wêreld maak mens so,” sê konstabel Hakkelongtong.
Twee dae later is konstabel Johnie in ‘n psigiatriese instituut in Durban opgeneem. ‘n Week later is hy as heeltemal normaal en hoog intelligent geëvalueer. Hy is onmiddellik vanaf Ixopo na Durban Sentraal polisiestasie verplaas en was in daardie seisoen ‘n staatmaker in die SAP se eerstespan. Rugby, nie jukskei nie.

“Ja-nee” seg die Engelsman met ’n skalkse glimlag en ek waarsku hom sommer al voor die tyd, ek het nie tyd vir sulke plannetjies nie, ek los hom op die watertenk.

You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button