Zola hoenders veroorsaak konsternasie

Na die tafels wat die afgelope Kersfees en Nuwejaar gekreun en steun het onder al die kos het ek besluit om een dag af te vat en wegneemetes te gaan koop.

Terwyl die Engelsman heerlik smul aan die ‘buffalo wings’ lyk die prentjie volmaak. Krieket op die televisie en sy glas whiskey met ‘eish’ op die tafeltjie neffens hom. Dis mos nou hoe mens 2015 afskop, nê?

Tussen die lopies deur beduie hy met die hand waaraan die ‘buffalo wing’ se sous klou dat hy iets onthou en hy begin onbedaarlik lag en hy vat my terug na die slag van die ‘Zola Budd’ hoenders.
Sal ek dit dan nou ooit kan vergeet. My pa en swaer, Karel wat destyds oppie plaas gebly het, het ’n hoenderboerdery bedryf. Sowat 200 dagoud kuikens is al om die tweede week bestel. Moenie dink dit was sommer enige kuikens nie, nee die kuikens was gegradeerde kuikens. Nogal A1 kuikens.

Vir die eerste twee weke is die kuikens in hokke gesit wat met ligte toerus was en dag en nag gebrand het. O ja, daai tyd had Eskom nog nie beurtkrag gehad nie en pa en swaer Karel is nooit gemaan om alle onnodige ‘appliances’ soos swembadpompe en hoenderhokligte af te skakel nie.
Dié kuikens is op ’n spesiale voedingskema geplaas en na twee weke is die kuikens na ’n ander hok verskuif en die volgende klomp A1 gegradeerde dagoud kuikens is ingebring en in die leë hok gesit.
Die twee weke oue kuikens in die tweede hok is dan vir vier weke op ’n vetmaak voedingskema geplaas.
As alles vlot verloop is die eerste kuikens, wat nou al ’n hoender was, na ses weke geslag en elke hoender het so ongeveer 2kg geweeg.
Die mense het tougestaan vir die lekker hoenders wat maklik ’n familie van ses kon voer.

Die twee entrepreneurs het nogal goed geld gemaak, maar alles verloop nie altyd volgens plan nie.
Een jaar, iewers in November kon verskaffers nie meer A1 gegradeerde kuikens verskaf nie. Wat nou gemaak? Kersfees is op hande en almal soek hoenders vir die Kersmaal.

Die twee het verwoed rondgebel, maar alles pure verniet, daar was nêrens A1 gegradeerde dagoud kuikens te vinde nie.
Maar toe kom die geluksgodin en knipoog vir hulle, of so het hulle gedink.
Voor ’n winkelsentrum op die dorp kry hulle ’n Indiërman met hokke vol kuikens op sy bakkie. Die man sweer hoog en laag dis A1 kuikens en pa en swaer Karel koop net daar 200 kuikens.

Op die plaas is die dagoud kuikens sorgvuldig in die hok geplaas en gevoer en gevoer en gevoer en weer gevoer.
Om ’n lang storie kort te maak, dit was toe nooit A1 gegradeerde kuikens nie. Na 12 weke van voer en voer en voer en weer voer het die hoendertjies sulke klein lyfies en baie lang bene gehad, hulle sou nie eers 1kg uitslag nie. As gevolg van die lang bene is die hoenders sommer op die daad ‘Zola Budds’ gedoop.

Nodeloos om te sê dat daar daardie Kersfees baie min Kerstafels met hoenders op was.
Of daardie hoenders ooit geslag was, twyfel ek baie sterk, want met daai lang bene het hulle net te vinnig gehol en kon nooit gevang word nie.

Exit mobile version