BlogsEditor's noteOpinion

Oues van dae word bederf

Kersfees is reeds besig om te wink, waar is die jaar heen. Daar het soveel opwindende dinge die afgelope paar maande in Emmawillielênie gebeur dat ek net nie kan byhou met die spoed waarmee die jaar in sy ‘herfs’ ingaan nie.

Kersfees is reeds besig om te wink, waar is die jaar heen. Daar het soveel opwindende dinge die afgelope paar maande in Emmawillielênie gebeur dat ek net nie kan byhou met die spoed waarmee die jaar in sy ‘herfs’ ingaan nie. Daar is net so ’n spoegie meer as 90 dae in die jaar oor.

Dit bring my by iets wat my baie na aan die hart lê, ons oues van dae.
Ek onthou as ’n bloedjong joernalis was ek gevra om een feesgety foto’s by ’n ouetehuis te gaan neem, dit was op 24 Desember. ’n Ou tannie het my aandag getrek. Sy het kietsregop by die voordeur van haar woonstelletjie gestaan. Langs haar was haar tas, gepak en reg vir die vakansie saam met haar kinders wat haar later die middag sou optel.

Sy was so opgewonde, sy kon kwalik stilstaan.
Kersfees was skaars ’n gedagte en ek is weer ouetehuis toe om foto’s by nog ’n funksie vroeg in die nuwe jaar te neem. So terloops word daar toe vir my genoem dat die tannie tevergeefs vir haar kinders gewag het. Hulle het haar net nooit opgelaai nie.
Ek het besluit om te gaan kuier, miskien was daar ’n geldige rede hoekom hulle haar nie kom haal het nie.

Verleë het sy die deur oopgemaak en my saggies ingenooi. Haar tassie was reeds uitgepak en sy het my tussen die trane deur vertel haar kinders het haar ‘vergeet’.

Die geskenkies wat sy sorgvuldig vir haar kleinkinders toegedraai het, het grootoog vir my gestaar.
Daardie dag het my hart in stukkies gebreek.

Sulke verhale is nie seldsaam nie. Hoeveel oumas en oupas word nie net vir gerieflikheidshalwe ‘vergeet’ nie.
Dan kry ’n mens engele wat op aarde geplaas is om ’n ogie oor die bejaardes te hou. So ’n engel in ‘disguise’ is Wilna Botha.
Wilna is altyd besig met projekte wat die bejaardes insluit. Sy het Immergroen se mooimaak projek suksesvol afgehandel. Inwoners het ’n bejaarde ‘aangeneem’ en hulle wooneenhede geverf, beddegoed gekoop en sommer net gaan nader kennis maak.  Gou is die ouetehuis van hoek tot kant geverf en opgedollie.

Toe begin Wilna met die sakgeld projek. Inwoners gee elke maand R200 sakgeld aan ’n bejaarde. En ek is trots om te sê WITBANK NUUS se redaksie gee ook elke maand ’n sakgeldjie vir daardie ietsie ekstra lekker. Daar is reeds vanjaar R128 000 in die projek ingeploeg deur die gemeenskap.

Dit bring my na Wilna se Kers-projek.Dit is baie maklik om deel van die projek te word.
Jy gaan kuier by die R5 Price Beat winkel in Leo Plaza in Oppermanstraat en kies ’n bejaarde se naam. Koop ’n geskenkie, draai dit toe, skryf die naam duidelik daarop en handig dit weer in by Wilna en haar span wat die geskenke in November en Desember aas die gryses gaan oorhandig.

Met die projek gaan daar oor die feesgety ’n glimlag op 589 bejaarde en liggaamlik gestremdes se gesigte gesit word.
Ek is met die idee na die Engelsman toe, nadat ek my hele storie vir hom vertel het, het hy besluit om ’n ouma en ’n oupa ‘aan te neem’.
Hy het sy gryskop geskud en die ‘eish’ stadig by sy whiskey gegooi en geseg ek moet vir Wilna ’n boksie ‘chocolates’ koop net om dankie te sê dat sy omgee.

Die Engelsman se lysie raak nou al langer, dis nou nie net Mr Fix-it wat vir ’n knertsie genooi word nie, Wilna se naam is ook by die lys gevoeg.

Back to top button