67-minute kan Emmawillielênie opdollie

Die sosiale netwerke het gegons en die koerant se telefoonlyne is witwarm gebel soos elkeen wil vertel wat hy vir 67 minute wil doen.

Net 67 minute van jou tyd.

Dit het die slagspreuk geword wat ons met oud-president Nelson Mandela vereenselwig.
Die 67 minute simboliseer Mandela se 67 jaar van politieke aktivisme waarvan hy 27 jaar in die tronk deurgebring het in sy stryd teen apartheid.

Die sosiale netwerke het gegons en die koerant se telefoonlyne is witwarm gebel soos elkeen wil vertel wat hy vir 67 minute wil doen.
Gemeenskapsprojekte is van stapel gestuur en skielik was almal baie besig om iets goed te doen.

Rekenaars is oorhandig en skoolterreine skoongemaak, groentetuine is aangeplant en hope klere en kos afgelewer. Hospitale is gewas en soentjies en drukkies is by die dosyne uitgedeel.

Selfs Emmawillielênie het haar deel van dié wêreldwye gebeurtenis gekry. Sy is ‘afgewas’ en ‘skoongemaak’. Verskeie projekte soos die skoonmaak van St George’s Park het deel uitgemaak van die dag se vieringe.

So gly nog ’n ‘eish’ in die Engelsman se glasie en hy seg, “In plaas van net een dag 67 papiere optel en die ou stadjie ‘spiekeries polish’ hoekom rek inwoners nie die projek oor elke dag uit nie?’

Dit vat een dag om die stad op te dollie, maar dit vat ook net een dag om die stad weer met rommel te besaai.
Ek was stomgeslaan met die Engelsman se wysheid wat sommer so uit die lug val. Hy reken die winter het sy tol geëis en dit kan hy sien aan sy hemp se knope wat die knoopgate skaars kan bykom. So seg hy as elkeen nou in die laatmiddag net om die blok stap en die papiere in die omgewing optel, maak ons elke dag ’n verskil en die winter-vetjies sê sommer in dieselfde asem ‘goodbye’.

Ek wou nog ’n ‘eish’ in sy glasie gooi en sê as jy klaar is dan skop jy die blok onder die bed in, maar toe ek die ernstige trek om sy oë sien toe besef ek hy het iets beet. Dit kan werk.

Ek en die Engelsman gaan in die middae begin stap, papiere optel en ons bure van nader leer ken.
Die is een projek waarna ek baie uitsien en ook om van die winter-vetjies ontslae te raak, wat ’n ‘bargain’.
En vir die wat nog nie die nuus gehoor het nie, die Engelsman is nou amptelik onder die pantoffelregering.

Exit mobile version