BlogsEditor's noteOpinion

Op jou merke, gereed ….

Atlete is al lankal besig om stoom op te bou vir die jaarlikse treinwedloop.

Dié groot gemeenskapsprojek wat bekend is vir sy kameraderie en hope pret vind Saterdag 23 Augustus plaas.

Die afgelope paar jaar het die weer die hardlopers ’n streep getrek, maar ten spyte van die ysige windjie het duisende deelnemers nog steeds vir die resies opgedaag.

Ge’tekkie’ en ge’mussie’ het hulle in hul hordes opgedaag om teen die trein mee te ding.

Behalwe vir die medalje waarmee deelnemers aan die einde van die dag spog, is die grootste prys seer sekerlik die gevoel van ek-het-iets-vir-iemand gevoel, want die resies is ten bate van liefdadigheidsorganisasies in die eMalahleni en Middelburg area.

Wanneer die trein vertrek, spring die deelnemers ook weg by die stasie waarna hulle probeer om die 28km lange roete tot in Middelburg vinniger as die trein af te lê.

Die treinspoor loop op die grootste gedeelte van die roete langs die R555.

Die asems jaag, die spiere mor en die sowat vyf kilometer wat elke lid van die aflosspan moet aflê  voel soos 50km. As jy ons goue oue ouderdom bereik voel die einste 5km meer soos 500km.

Met elke tree sluit jy ’n nuwe vriendskap of hernu ’n ou vriendskap en daardie geselsies langs die pad maak daardie kilometers wat nog voorlê tjoef-tjaf korter.

Ek en die Engelsman gesels uit ondervinding uit. Teen ons muur hang vier medaljes skitter-blink. Ek moet net byvoeg ons was darem dekades jonger toe ons die resies aangedurf het.

Wat die medaljes nie vertel nie is dat ek die Engelsman daardie aand na die resies moes smeer. Sy spiere was styf en ek moes die ‘masseer-stasie’ beman. Ek was na ons laaste resies daardie aand nog op en wakker. Maar die volgende oggend … Ek kon my bene nie beweeg nie, dié het soos lood gevoel.

Gaan ons dit ’n derde keer maak, drie keer is mos skeepsreg. Nee, onthou ons is ’n paar dekades ouer en die ou bene williemeenie.
Vanjaar gaan ek op my pos langs die pad wees, kamera in die hand en die Engelsman? Op sy pos voor die stoof met ’n glasie en ’n tikseltjie ‘eish’ in die hand. As ek moeg en lyfseer by die huis kom, moet die kos regstaan.

My eindpunt na die wedloop is by die huis, ’n lekker warm bad en vroeg in die bed klim. Dis net sulke harde werk om heeldag foto’s te neem as om die resies te hardloop.

Opskud, maak seker jy skryf in, want die wedloop is een wat net nie gemis kan word nie.

Back to top button