Wat nou?

Die meeste van ons spog nou met bruin merkies op ons linkerduime. Dit het omtrent soos ’n fashion-accessory’ gelyk met almal se foto’s wat op sosiale media heen en weer gevlieg het.

Maar die elektrisiteit in die lug is verby en almal is weer terug by hul normale roetine.

Die verkiesing laat my baie dink aan die diens op ’n vliegtuig, sodra jy jou oë toemaak wikkel een van die lugwaardinne verby en in skree-vra in ’n skril stemmetjie ‘Chicken or beef?’

Maar dit was nie net ’n storielyn van ‘chicken or beef’ nie. Hierdie was ’n keuse met ’n kolossale impak op Emmawillielênie.
Daar moet in ag geneem word dat die stadjie van ons gesteier het onder die daaglikse druk van dienslewering, en die kruisie wat ons getrek het gaan bepaal of ons in die toekoms steeds gaan mor en knor oor leë krane, slaggate soos groot soos Kimberley se gat en stikdonker koue aande.

Net soos baie van ons gestem het, het baie nie gaan stem nie. Daar was glad een man wat by ’n laerskool gesit en homself vergaap het aan die bedrywighede by die skool. Hy wou weet watse partytjie aan die gang is, want hy wou saam kuier.

Meneer, lees jy nie koerant nie, kyk jy nie televisie nie, slaan jy nie ag op die mense om jou se geselsies nie, ek dink jy leef op ’n ander planeet.
Ek is baie sensitief oor die hele stemmery. Ek voel dat ek eerste in die ry staan as daar gekla word en sonder dat ek ook met die bruin merkie op my linkerduim kon spog het ek geen voet om op te staan en my eie sê te sê nie.

Later, terwyl Emmawillielênie haarself in haar dik wolkombersie toewikkel, vergelyk ek en die Engelsman ons bruin merkies en die gesprek loop sy gang na die dag se gebeure, mense en hul dinge.

Net die geklinkel van die Engelsman se ‘eish’ in sy whiskey is hoorbaar nadat hy die volgende woorde seg, “Ja, julle Evas het nie bruin merkies op jul linkerduime nodig om julle seg te seg nie. Julle sê in alle geval net wat julle wil, wanneer julle wil en hoe julle wil. En as ons ietsie wil sê blameer julle dit op jul emosionele toestand of die maan.’

Nodeloos om by te voeg, die Engelsman moes die res van die aand tevrede wees met sy eie geselskap.

Exit mobile version