Dwelmhel op ‘eish’

60% van die stad se jeug is aan dwelms verslaaf. Met ander woorde ses uit elke 10 jongmense is hoog op een of ander dwelm.

Wat ’n sombere en hartverskeurende prentjie is dit nie.

Ek het die afgelope paar weke sommer net gaan gesels met jongmense wat aan dwelms verslaaf is.

So het ek Saterdag op die mooiste jong meisie afgekom. Ek noem haar sommer Sannie, want sy is bang. Sy is nie bang vir die donker of vir spoke of vir spinnekoppe nie. Sy is bang vir die dwelmmonster wat haar van binne af opvreet.

Die meisie is nou 19 jaar oud, tog lyk soveel ouer. Al glimlag sy raak daardie glimlag nie die hoekies van haar leë oë en tower klein lagplooitjies op nie. Sy glimlag, want net dalk kry ek haar jammer en gee vir haar ’n paar rand.

Sy het my vertel dat sy enige iets sal doen vir ’n ‘fix’. Sy het al haar liggaam verkoop en haar siel verkwansel, nou bly net die goed oor wat sy kan steel. Sy steel, verkoop die goedere vir ’n skamele paar randjies vir die volgende ‘trip’.
Die naaldmerke in die waai van haar arm is ’n bewys van hoe onlangs sy heroïne gespuit het.

Sannie se verhaal is nie uniek nie, trouens daar is baie Sannies in die lewe en moontlik weet jy ook van ’n Sannie wie se lewe deur haar are weggespuit word.

Dié keer skink die Engelsman vir my ’n baie sterk whiskey op ‘eish’ want hy weet my moederinstink is besig om my in twee te skeur. Ek wil Sannie gaan haal, vir haar ’n warm bad tap, lekker sagte slaapklere aantrek, gesonde boerekos gee en vir haar ’n feëverhaal lees tot sy aan die slaap raak. Tog weet ek Sannie gaan my gebruik nes sy tientalle mense met haar glimlag gebruik om haar te ‘sponsor’ vir die volgende ‘fix’.

Seg die Engelsman die tragedie by die tragedie is dat dwelmmisbruik steeds nie geboei word nie en dat té veel mense onbetrokke anderpad kyk wanneer nog ’n Sannie woordeloos smeek vir hulp.

Net die gerinkel van die ‘eish’ breek die stilte, ons elkeen sit met ons eie gedagtes en ons wonder waar slaap Sannie vanaand?

Exit mobile version