Vir julle gee ek ’n stem

In my veilige hawe het ek en die Engelsman tot laatnag gesels oor bejaardes.

Hierdie week se gedagtes het ek al oor en oor uitgevee, oor begin en weer uitgevee.

’n Warboel van emosies is die rede vir die uitvee, skryf, uitvee, skryf …

’n Ouma met ’n reuse bedseer is aan ’n stoel vasgemaak met ’n laken.

Ek wil dit uitskree ‘Hoe verniel jy ’n ouma of ’n oupa!’ Op 15 Junie elke jaar dra almal turkooiskleurige klere en strikkies as deel van ’n bewusmakingsveldtog teen die mishandeling van en geweld teenoor ouer persone.

Tog maak daardie strikkie nie ’n verskil nie.

In my veilige hawe het ek en die Engelsman tot laatnag gesels oor bejaardes.

In ons albei se lewens het ons ouma’s en oupa’s hoofrolle gespeel.

My ouma en oupa was die twee merkwaardigste mense.

Ek onthou die lewenslesse, die ure se saamlees op my ouma se bed en my oupa wat televisie gekyk het tot die horlosie om middernag opkom.

Ek ruik nog my ouma se beskuit en ek het nog die briefies wat sy vir my geskryf het.

My oupa het altyd so fier en regop geloop, sy ligte blou oë het soos stukkies hemel gelyk, jy kon net nie vir hom jok nie. Vandag is my Moekie ’n oumagrootjie.

Die liefde wat ons vir haar het is partykeer oorweldigend.

Vir ons Moekie beteken liefde stywe drukkies en baie soene sommer so regoor die gesig.

Maar daar is ander ouma’s en oupa’s en Moekies wat noodgedwonge in ouetehuise geplaas word, miskien verkies hulle dit so om tussen vriende van hul eie ouderdom te wees.

Enige persoon wat by ’n ouetehuis werk of met bejaardes werk, onthou, jy werk nou met ’n kosbare juweel. Elke plooi op daardie liewe gesiggie vertel ’n storie.

Daardie bewende hande waarop die blou are soos riviere loop het al hard gewerk in hul lewens.

Daardie oë kyk dieper as ek en jy.

Die verandering van seisoene is ʼn onvermydelike proses.

En dit geld ook vir die lewe. Herfs beteken dalk die einde van somer, maar dis ook die begin van iets anders.

Vir ouma en oupa is hierdie hulle koester-jare.

Die herfsjare waarin ons nou kans kry om dankie te sê.

Dit is vir hierdie herfsjaar ouma’s en oupa’s wat ek opstaan en ’n stem gee.  

Deel jou nuuswenke met ons via:

Telefoon: 013 656 2490

WhatsApp: 060 866 8682

Epos: wtbnews@mweb.co.za  

Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms:

Instagram

Twitter

Witbank News toep

Facebook page

Witbank News Breaking  

Exit mobile version