Rugby legende in wording

Johandré Smith is vir rugby-grootheid bestem.

Van sy geboorte af blyk dit Johandré Smith was vir rugby-grootheid bestem.

Die bal-mal baba, wat tot ’n besonderse jong man gegroei het, is onlangs in die September skoolvakansie na Roemenië, waar hy met trots sy skool, sy land en die stad eMalahleni verteenwoordig het.

Johandré, wat ’n graad 10-leerling by HTS is, het ’n lang en roemryke rugbyloopbaan gehad, en elke keer as hy aan ’n bal raak, word sy drome goud – en groen, as hy aanhou sukses op die rugbyveld behaal.

Tydens die Rugby Bokkieweek vanjaar is hy gekies vir die Suid-Afrikaanse Rugby Bokkieweek, en voor hy dit geweet het, is sy kaartjie na Roemenië bespreek, maar sy reis het nie daar begin nie.

Op laerskool by Kragbron het hy vir die Pumatjies en Rugga Rugby gespeel.

Toe hy 11 was, is hy vir die eerste span gekies, maar het ongelukkig net een wedstryd gespeel voordat Covid toegeslaan het, wat sy rugbydrome vir ’n rukkie op die spel geplaas het.

Sy laaste jaar op laerskool is hy gekies as die kaptein van die eerste span en om in die Danie Roussouw-toer te speel.

Hoërskool het beslis nie sy glans en vasberadenheid verdof nie. Hy het by Middelburg Hoërskool begin, maar het gou gesmeek om terug te kom huis toe, maar voor hy vertrek het, het hy ook daar sy rugbyvernuf gewys deur in ’n rekordtyd vir die o14 A-span gekies te word.

“Om ’n goeie rugbyspeler te wees, is om goeie sportmanskap te hê met jou kop altyd gefokus op die wedstryd. Jy moet met ’n goeie hart speel en jouself steeds op die veld geniet,” het Johandré gesê van sy rugby.

Nadat hy teruggekeer het huis toe en by HTS begin het, het hy vinnig in die ranglys opgeskuif en is gekies as die kaptein van die o16 A-span asook om in die Bokkieweek te speel – waar hy gekies is as man van die wedstryd teen die Cheetahs.

“Johandré is ’n uitblinker met alles wat hy doen. Hy is ’n baie goeie leier vir ons rugbyspan. Ek is baie trots op hom, omdat hy so baie bereik het hierdie jaar. Hy het hierdie toer uit en uit verdien. Hy is ’n fantastiese speler en daar lê nog groot dinge vir hom voor. Dit was vir my ’n voorreg om met hom te kon werk die jaar by HTS Witbank se o16 A-span, asook tydens die Suid-Oos Transvaal se o16-span. Ek is baie trots op jou, Johandré. Bly die goeie mens wat jy is,” was afrigter Leandré Honeyborne se woorde van ondersteuning.

Sy uitsonderlike rugbyloopbaan word gerugsteun deur sy geloof en sy talent wat hy glo net God hom mee geseën het, respek vir sy wonderlike afrigters, harde werk en toewyding, het uitgeloop daarop dat hy as losskakel in Roemenië op die veld gehardloop het.

“Johandré, ek is baie trots op jou oor hoe jy gegroei het en hoe hard jy gewerk het om tot hier te kom. Ons is baie lief vir jou en ongelooflik trots op jou. Baie sterkte!” was afrigter Juan Wessels se woorde.

Laaste maar nie die minste nie, wil sy ouers graag almal bedank wat hierdie toer vir hulle seun moontlik gemaak het.

eMalahleni is trots op jou, seun! Mag jy eendag op ’n veld uitdraf met die gesogte Springboktrui aan.

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version