Local newsNewsUpdate

N12 ongeluk – Willem het nie geweet hulle verwag ’n dogtertjie nie

Robin du Plessis is vier maande swanger met ’n dogtertjie.

Die ongeluk waarin Willem van der Sandt (40) en sy dogtertjie, Shyloh (3), Vrydagaand oorlede is, het almal geruk.

Robin du Plessis (30) se roerende pleidooi op sosiale media dat die mense wat vermoedelik van agter af in hul Mitsubishi Pajero vasgery het, opgespoor moet word – het mense se harte geraak.

“My liefste man, en my pragtige prinses, R.I.V. … Rus in vrede my 2 liefdes. Ek is soooooo soooo jammer, en ek mis julle soooo baie … Ek hoop justice seevier… en dat hulle gevang word. Ek kan nie my lewe indink sonder julle nie, hoe gaan ek dit doen? Ek is sooooo bitter baie ongelooflik baie lief vir julle 2… Wens die tyd kon ek terugdraai… Ek kan nie sonder julle nie… Hoe gaan ek dit doen?” was haar eerste inskrywing na die ongeluk wat op 30 Augustus op die N12 gebeur het.

Robin du Plessis se hartroerende pleidooi op sosiale media.

Du Plessis het gesê hulle het 117km/h op die N12 teruggery eMalahleni toe van Eloff af waar hulle by haar ma gestop het nadat hulle inkopies in Springs gaan doen het.

’n Kar het glo teen ’n hoë spoed van agter af in hulle vasgery en beide voertuie het gerol.

Die bestuurder van die voertuig het glo van die toneel af weggehardloop.

Van der Sandt is vermoedelik op slag dood

“Ek het Willem op die teerpad gevind. Hy het nie gereageer nie. ’n Entjie verder het my dogtertjie gelê …”
Sy het Shyloh opgetel en gaan sit, “Dit het geklink asof sy probeer huil en sy het kort-kort ’n snaakse geluid gemaak. Sy is in my arms dood,” het die gebroke ma gesê.

Du Plessis se oudste seun, Lorenzo Botha (12), is uit die kar geslinger en sy jonger boetie, Lehandro Botha (8), was nog in die kar.
Hulle was na na staatshospitaal op Delmas geneem vir behandeling. Hulle het nie ernstige beserings opgedoen nie.

Willem van der Sandt (40) en sy dogtertjie, Shyloh (3).
Lees meer hier: Man en 3-jarige dood in N12 ongeluk, swanger mamma soek na antwoorde

Pa het nie geweet hulle verwag ’n dogtertjie nie

Tydens hulle laaste ondersoek by die dokter, het die dokter die baba se geslag op ’n papiertjie geskryf en in ’n koevert gesit. Die opgewonde ouerpaar sou die naweek by ’n geslagsonthullingspartytjie uitvind hulle moet pienk babaklere koop.

Hy was ons held, en my mini-me het altyd gelag

“My man was ons broodwinner. Hy was ons kinders se pappa, ons held, ons alles. My ‘mini-me’, my eerste meisiekind, my poppie, my prinsessie is ook wreed weggeruk uit die lewe uit.”
“Ek weet nog nie hoe ons hierdeur gaan kom nie. Dis so bitter moeilik. Ek wil net antwoorde hê, ek wil net hê geregtigheid moet geskied. Dit is so bitter moeilik, ek kan nie ’n dag sonder hulle insien nie.”

“My dogtertjie was my eerste meisiekind, my poppie, my ‘mini-me’. Hulle het altyd gelag.”

Du Plessis, Lorenzo en Lehandro bly op die oomblik by haar ma, Mandy van der Merwe op Eloff.

“My kind is stukkend. Ons weet nie wat die dag van môre gaan inhou nie, ons bid en vertrou net,” het Van der Merwe gesê.

Du Plessis en Van der Sandt sou oor ’n jaar getrou het. Van der Sandt het ’n meganiese besigheid in eMalahleni gehad.

Back to top button