Local newsNews

Witbank Rugbyklub is Mpumalanga kampioene

Dit was harde rugby, maar opwindende hardlooprugby wat die toeskouers laat asem ophou het.

Witbank Rugbyklub se eerste span is die Mpumalanga Premierliga wenners.

Die tweede span het silwer medaljes verower in die liga wat Saterdag, 3 Augustus, by Hoërskool Patriot gespeel is.

Die eerste span het hul alma maters van Nelspruit 54-34 gewen.

Die besoekers het in die eerste 15 minute twee keer agter die doellyn gaan kuier en met een doelskop geslaag. Die tuisspan wat toe 12-0 agter was, was ietwat onkant gevang, maar het hulle strukture gevolg en met drie drieë teruggeantwoord, waarvan net twee suksesvol verdoel was.

Wat in rustyd gesê is, het gewerk van toe die tuisspan die tweede helfte afskop, was dit met mag en mening.

Hulle het hul agterstand ingehaal en hul rotsvaste verdediging het Nelspruit in die tweede helfte ‘n knou toegedien, terwyl hulle self vier keer agter die doellyn uitgekamp het.

Dit was harde rugby, maar opwindende hardlooprugby wat die toeskouers laat asem ophou het.

Hanteerfoute en vier onsuksesvolle skoppe het die tweede span hul wedstryd gekos.

Altwee die spanne het binne die eerste 15 minute punte op die telbord gesit.

Die manne was lus vir mekaar en die humeure het bietjie die oorhand gekry.

Die tuisspan het weer agter die pale gaan kuier en die twee ekstra punte het ook plek op die telbord gekry.

Witbank kon dit daarna net nie regkry om deur Nelspruit se skanse te breek voor die eindfluitjie geblaas was nie.

“Hierdie was nou lekker rugby. Dit is verblydend om te sien dat rugby in eMalahleni so goed ondersteun word. Baie geluk aan albei spanne,” het Marius van Rensburg, HUB van die Mpumalanga Rugbyunie gesê.

Met die blink trofee nou in die klub se trofeekas, weet hulle dat die harde werk nou begin as hulle dié trofee volgende jaar weer in die kas wil terugsit.

“Ons is dankbaar vir elke geleentheid. Ons bedank al ons borge wat die seisoen moontlik gemaak het. Dankie ook aan Hoërskool Patriot vir die gebruik van hulle fasiliteite,” het Gerhard van der Heever, afrigter, gesê.

Die Puma-afrigter, Jimmy Stonehouse, het die spanne geluk gewens en gesê hulle harde werk het vrugte afgewerp, “Ons is trots om te sê rugby in Mpumalanga is besig om te groei.”

Ons deel graag ons foto’s:

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button