Vrou huil heelpad huis toe nadat sy weggooibaba ontdek

In eMalahleni is daar die afgelope twee maande vyf babas weggegooi. Vier van die weggooibabas het nooit ’n kans op die lewe gehad nie.

Annamart Brecher se hart is stukkend. Sy het gister met die wreedheid van die lewe te doen gehad toe sy ’n baba in Middelburg, toegedraai in ’n kombers ontdek het. Die baba se naelstringetjie was nog aan en hy het ’n skoon doek aangehad.

Die baba is deur ER24 na Middelburg Provinsiale Hospitaal geneem vir observasie.
Brecher het van die oggend se gebeure vertel.

Sy het nooit gedink haar dag sou só uitdraai toe sy ’n pakkie vir ’n vriendin in Middelburg in Weeberstraat gaan aflaai het nie.

“Die GPS was onduidelik en ek het stadig gery en probeer om die vrou by wie ek die pakkie moet los, te bel. Ek het ’n man opgemerk wat by ’n kompleks uitstap en weer terugstap. Ek wou net moed opgee toe ’n man my bel en sê ek is by die regte adres, die vrou vir wie ek die pakkie moet gee, is net besig op die oomblik en hy sal my in die straat kry. Dit was dieselfde man wat ek by die kompleks raakgesien het,” het Brecher vertel.

Loutjie Naudé het vir Brecher in die pad gewag om die pakkie in ontvangs te neem namens sy vrou.
Toe sy die pakkie aan Naudé gee, het hy vir haar gesê hy het iets in die hoek van die muur gesien uitsteek wat soos ’n kombers lyk en was huiwerig om te kyk, want hy was bang dit is ’n baba.

Lees ook hier: Dog sniffs dumped newborn out

Brecher het aangebied om saam met Naudé te loop en sy het vertel dat die man die kombers oopgemaak het, regop gespring het en geskok vir haar gesê het dit ís ’n baba.

“Ek was in skok en het nie die krag gehad om die klein lyfie op te tel nie. Nog ’n man het uitgekom en die baba opgetel. Die baba was gevoed en die doek was ook vars,” het Brecher gesê.

Sy het op die Zello-kanaal ingeroep en Annamarie Bouwer het van eMalahleni af die nodige mense op die toneel gekry.

“Ek het probeer sterk wees, maar op pad huis toe het ek gebreek en gehuil tot ek by die huis kom. Hoe kan enige ma ’n baba vir nege maande dra en dan net weggooi?”

Daar is kommer uitgespreek oor die toename van babas wat weggegooi word.

“Dit is ’n misdaad om babas weg te gooi. Daar is instansies waar ongewenste babas versorg word,” het kaptein Eddie Hall, polisiewoordvoerder gesê.

Lees ook hier: Newborn dumped on sidewalk

Het jy meer inligting oor dié artikel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

 

HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version