Local newsNews

Emalahleni oud-onderwyser lewenslank gevonnis vir verkragting

‘n Oud-onderwyser is lewenslange tronkstraf opgelê vir die verkragting van ‘n leerling by die skool waar hy gewerk het as onderwyser, terwyl sy nog ‘n minderjarige was.

William Hendry Degenaar (60) se naam sal voortaan in die nasionale register vir seksoortreders verskyn.

Landdros Deon Minnie het Degenaar vanmiddag in die Witbank Landdroshof gevonnis.

Buiten vir die lewenslange tronkstraf vir die verkragting van ‘n minderjarige, is Degenaar tot 10 jaar tronkstraf op ses addisionele klagtes van verkragting (toe die slagoffer reeds 16-jaar oud was), en drie jaar vir seksuele aanranding opgelê.

Die vonnisse sal samelopend uitgedien word. Degenaar is effektief 25 jaar tronkstraf opgelê.

Degenaar se regsverteenwoordiger Werner Bruyns het aangedui dat hulle gaan appèl aanteken teen die vonnis.

“Ek gaan die instruksie met my kliënt se familie bespreek,” het hy gesê.

Bruyns het tydens sy betoog vir uitstel gevra en gesê dat hy die laaste gedeelte van die meer as 1 000 bladsy hoftranskripsies eers ’n week terug ontvang het.

“Ek kan nie soos ’n cowboy optree wanneer die beskuldigde ’n lewenslange vonnis in die gesig staar nie,” het Bruyns gesê.

Hy meen dat hy nie genoeg tyd gehad om deur al die verslae te gaan wat deur die forensiese sosiale werker dr. Elsabe Bosch-Brits ingehandig is.

Bruyns het aan die hof gesê dat hulle besig is met ’n bykomende verslag van ’n forensiese sosiale werker, Carina Wolmarans, en het vir tyd gevra om die verslag af te handel.

Die staat, gelei deur senior staatsaanklaer Francois Brandt, het egter kapsie gemaak daar teen die aansoek en gesê die verdediging speel vir tyd.

Brandt het genoem dat Wolmarans (die maatskaplike werker wat aan die tweede verslag werk) hom gekontak en gevra het of korrektiewe toesig ’n vonnis-opsie sou wees.

Minnie het die aansoek van die hand gewys en gesê die hof sal die kenners verslag deur Bosch-Brits in ag neem.

“Die beskuldigde het begin as ’n afloerder en as ’n seksuele oortreder geëindig,” het Brandt gesê.

 

“Hy het sy slagoffer versigtig uitgesoek. Sy het nie ’n vaderfiguur gehad nie en was ’n eenkant-kind,” het Brandt gesê.

Minnie het tydens sy vonnisoplegging gesê dat Degenaar die tiener vir wie hy skoolgegee het, oor ’n tydperk van vyf maande een keer seksueel aangerand en sewe keer verkrag.

“Ek is van mening dat, hoewel die aanklagte van verkragtig dalk nie noodwendig die ergste graad van verkragting is nie, jy jouself skuldig gemaak het aan kinderverkragting en dit oor ’n tydperk van meer as ’n jaar,” het Minnie aan Degenaar gesê.

Hy is reeds in Februarie  skuldig bevind op die klagtes teen hom.  Die misdrywe het in 2011 plaasgevind toe die slagoffer Degenaar se dissipelskool bygewoon het.

Wat is jou opinie?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas

Back to top button