Boodskappe van medelye stroom in na dood van Klipfontein leerder en haar ouma

Die ouma en haar kleindogter se roudiens vind Vrydag, 12 Julie plaas.

Die Klipfontein leerder en haar ouma wat verlede week dood is na ’n ongeluk, se roudiens vind môre plaas.

Me. Erika Groenewald en haar naamgenoot, Erika, se roudiens vind om 11:00 by Laerskool Tasbetpark se saal plaas.

Laerskool Klipfontein, waar die vier dogters, Bella, Esmé, Odette en Erika wat in die ongeluk was, skoolgegaan het, het hulle medelye gedeel, “Ons innige meegevoel aan die Groenewald familie! Ons bid ook ’n spoedige herstel toe aan die oorlewendes.”

Boodskappe van medelye vanaf ander skole in eMalahleni stroom ook in.

“Ons medelye en gebede gaan aan die Groenewald familie, ons is verskriklik jammer oor julle verlies,” het Laerskool Tasbetpark op sosiale media geplaas.

Van HTS af was die volgende boodskap geplaas: “Ons innige simpatie en meegevoel gaan uit na die Groenewald familie. Rus in vrede liefste Erika Groenewald. Ons bid vir vertroosting en volkome genesing vir die drie Klippies leerders wat tans herstel.”

Erika is Donderdag, 4 Julie, oorlede toe die bakkie waarin sy, haar ouma, twee sussies en niggie gery het met ’n trok by die Leandra/Ogies-kruising gebots het.

Sy is op die toneel dood. Haar ouma is die volgende oggend in die hospitaal dood.

Hulle het van ’n vakansie in Margate af teruggekeer en was op pad huis toe, toe die ongeluk gebeur het.

Priester Riaan Heyns het gesê, “Die kinders is sprankel-kinders’ Ek dank die Here vir hulle oulaas-vakansie. Dit was die kinders se eerse seevakansie.”

Het jy meer inligting oor dié artikel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

Exit mobile version