Local newsNews

Tót die Bybel is nie veilig nie

Jong paartjie se huis word gereeld gebruik vir 'inkopies'

’n Jong paartjie wat in Reynorif woon, is geskok nadat daar weer eens by hul huis ingebreek is – en dié keer het die kriminele tot hulle Bybel gesteel.

Op Donderdag, 20 Junie, het die vrou by die huis aangekom om 12:00 en iets het net nie reg gevoel toe sy by die voordeur instap nie.

Een van haar klein hondjies het aanhoudend voor die spaarkamer se deur geblaf, en dit is toe sy net geweet het iemand was alweer in hulle huis.

Sy het toe begin kyk deur die huis en gevind dat die hoofslaapkamervenster heeltemal oop was en die gordyn so half by die venster uitgehang het.

Die kant van die huis en die venster waardeur die diewe in die huis ingekom het.

Al die kasdeure het oop gestaan en daar was moddermerke op die vensterbank en voetspore op die grond buite die vensters van die huis.

Die inbrekers het by ’n gaatjie, die grootte van ’n A5-stukkie papier by die huis ingekom, sonder dat enigiemand iets gehoor of gesien het.

Hulle honde het sekerlik geblaf , “Tensy dit iemand is wat nie ’n vreemdeling is vir die honde of in die woongebied nie,” het haar man gespekuleer.

Sy het onmiddellik haar man gebel, en toe hulle begin ondersoek instel om te kyk wat weg is, het hulle gevind dat ses pare van haar man se skoene, ’n nuwe iPad en tot die Bybel wat op haar bedkassie was, gesteel is.

“Ek is net bly hulle was nie nog steeds in die huis toe ek opdaag nie,” het sy verlig gesê.

Hulle het buite begin rondkyk en dit is toe hulle sien dat sakke hout rondgeskuif was en al die vensters van die hoofslaapkamer van buite af mee gepeuter is.

Die ergste van als is, die huis is op die hoek van ’n baie besige straat.

Toe WITBANK NUUS daar was vir die onderhoud, was daar ten minste sewe mense wat in die straat rondloop en karre wat gedurig verby ry.

“Ons kan nie verstaan hoe niemand ooit enigiets sien as hulle by ons huis inbreek nie. Toe ons die huis gekoop het, het ons met opknappings begin.

Terwyl ons met dit besig was, was daar ’n inbraak waar hulle al die koperpype, krane en elektriese drade gesteel het.

Al my gereedskap is ook gesteel. ’n Paar weke gelede het hulle ons tuinstoele en ’n kruiwa gesteel. Alles is oor die muur gedra – voor almal wat verby loop of ry, en niemand het enigiets gesien nie,” het die man moedeloos gesê.

Die huis het behoorlike diefwering op die vensters, asook ’n elektriese heining om die eiendom, sekuriteitshekke voor elke deur en hulle maak elke dag die vensters toe.

Die paartjie het ook vier honde.

Wat meer kan ’n mens doen om jou huis te beskerm?

 

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

  • Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
  • Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram

 
Back to top button