Local newsNews

AfriForum takel Woltemade-nes en maak skoon

AfriForum se Witbank-tak het self ingespring en ’n onooglike stuk veld in eMalahleni opgerium.

’n Oop veld in Woltemadestraat, wat die afgelope paar jaar deur kontrakteurs omgedolwe is, ’n wegkruipplek vir kabeldiewe en sluipslapers geword het en met rommel bestrooi is, is verlede week tydens nóg ’n skoonmaak-aksie deur AfriForum se Witbank-tak, opgeruim.

 

Taklede het Vrydag, 14 Junie, ingespring om hierdie terrein skoon te maak en skoon te sny om dié groenstrook mooier én veiliger vir dié gemeenskap te maak.

 

 

 

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, is dit nie die eerste keer wat die Witbank-tak ingryp by die opknapping van die Woltemadestraat-terrein nie.

 

“Die Witbank-tak het al verskeie kere skoonmaak-aksies hier aangepak om dié seeroog reg te ruk, maar hierdie keer is daar aansienlike vordering gemaak in die herstel van hierdie onooglike terrein,” het Bekker verduidelik.

 

Kontrakteurs het, volgens Bekker, veral skade aangerig op die terrein toe opgrawings wat vir die aanlê van waterpype gemaak is, plek-plek omgedolwe en ongerehabiliteer agtergelaat is. Die Witbank-tak het daarom tydens hierdie skoonmaak-aksie ’n laaigraaf ingespan om die veld gelyk te stoot en ook gras hier te sny om sodoende die potensiële skuilplek vir misdadigers te beperk.

 

Alfred Friess, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak, benadruk die noodsaaklikheid van die opruiming van die Wolmaransstraat-terrein: “Ons is moeg daarvoor dat ons buurt geplunder word. Hierdie veld is nou al vir te lank ’n broeiplek vir misdaad, maar nou is hierdie skuilplek uiteindelik vernietig en opgeruim.”

 

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Witbank-tak. Kliek op die skakel vir meer inligting.

 

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

  • Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
  • Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram

 

 
Back to top button