Local newsNews

Help Monique om eendag by haar eie troue te kan loop

Jong vrou wat moedig stry teen beenmurg-kanker benodig dringend fondse.

Al is Monique Boshoff (29) nou permanent in ’n rolstoel nadat sy onverwags met mieloom beenkanker gediagnoseer is in Maart die jaar, kan sy ten minste nou al haar tone so bietjie beweeg, maar of sy ooit weer sal kan loop, is op hierdie stadium van haar stryd met kanker nog nie gewaarborg nie.

Sy glo sterk daaraan dat die Here haar deur hierdie uitdaging ook sal dra.

Elke Vrydag vat haar ma, Aletta Boshoff (58), haar deur na Pretoria-Oos Hospitaal toe vir chemoterapie. Meeste van haar inspuitings is skenkings, maar dit het nou al gebeur dat daar soms nie skenkings is nie, en dan moet sy R3 200 uit haar eie sak betaal vir die behandeling, maar soos Monique sê, “die Here sal voorsien.”

 

“My hare begin nou in klosse uitval en die naarheid is ondraaglik, maar ek bly positief. My hele gesin glo dat ek weer eendag sal loop,” het sy gesê.

Haar ma help haar op die oomblik met alles – van haar voer tot haar aantrek – maar dit word gedoen met liefde vir haar kind.

Sonder haar ma weet sy nie hoe sy sou kon klaarkom nie.

Behandeling vir haar kanker gaan goed op die oomblik, maar die stres oor die toekoms begin nou opbou.

Haar dokters is tevrede met haar vordering sover, maar oor ses maande het sy ’n beenmurg-oorplanting nodig, wat ten minste R700 000 gaan kos – Monique het nie ’n mediese fonds nie, en die polisse wat sy wel gehad het vir kanker, is uitgeput deur die rehabilitasie wat sy moes deurgaan.

Haar suster het ’n ‘Back-a-Buddy’ gestig om die kostes te dek van die beenmurg-oorplanting, maar uit die R700 000 wat benodig is, is daar nog net R31 000 ingesamel. Sonder die beenmurg-oorplanting sal Monique nooit genees nie.

Dit is absoluut noodsaaklik dat sy die oorplanting kry.

Soveel onverwagte en onbeplande uitdagings vir so ’n jong vrou, vir haar verloofde, haar moeder en haar kinders, maar tog bly hulle positief en hulle fokus bly op die Here, “Ek weet die Here sal voorsien en die fondse vir my behandeling beskikbaar maak soos ons dit nodig het. Sover het die Here nog nie een keer ek of my gesin in die steek gelaat nie,” het Monique vol hoop gesê.

Indien jy jou hart en beursie wil oopmaak om te kan help dat hierdie jong mamma van twee haar kinders kan sien groot word en eendag by haar eie troue sal kan staan en na haar verloofde toe stap, kan jy haar ‘Back-a-Buddy’ ondersteun op

https://www.backabuddy.co.za/campaign/monique-herbst-5843949672819406105?fbclid=IwZXh0bgNhZW0CMTAAAR2faQGBLXirmONtM9WZUIy4X8uF-0hVTNnIgmlao686hXHyhpiDfvexXd4_aem_AWtiFEktXzafFb5lUrFpFvKiWHD-VmAcuQ0b16AHWnq7k_Wjhj7lPJAXidhx_BrpEOXk4IZxVfAtCvw2fwJ6biVV

 

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

  • Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
  • Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram

 

 

Check Also
Close
 
Back to top button