Local newsNews

Welkom in eMalahleni

Dit vat net drie weke om keelvol te wees met die water probleme in eMalahleni

Jurie Smit, sy vrou en sy skoonsuster is nou maar drie weke terug in eMalahleni, en hulle is behoorlik keelvol.

Vir ’n hele week uit die drie weke wat hulle hier is, sit hulle al sonder water, en die probleem is na bewering, heeltemal die munisipaliteit se skuld.

Jurie Smit met die stuk pyp en watermeter wat hy gevind het.

Op Sondag, 9 Junie, het die munisipale werkers buite hulle huis in Snymanstraat, Klipfontein, al vroeg begin grou op die sypaadjie om ’n pyp te vervang.

Nadat hulle al die pragtige plante in beddings op die sypaadjie uitgegrou het, en heel duidelik ’n verkeerde pyp afgekap het, het hulle dood eenvoudig net die gat toegegooi en gery.

 

Dit is toe dat Jurie besef dat daar êrens ’n groot probleem moet wees.

Hy het toe buite gaan kyk en daar vind hy ’n stuk pyp en ’n watermeter wat net daar lê,

“Ons het die hele Sondag sonder water gesit, en ons kon sien hulle werk daar, maar toe die water nie aankom na hulle gery het nie, het ek besef iets is ernstig fout hier,” het Jurie gesê.

Jurie het die munisipaliteit gekontak, wie toe weer die gat kom oopgrou het.

Dit is toe Jurie sien dat daar ’n af pyp na sy huis toe is. Hy vra toe die werker wat aangaan, maar kon nie ’n duidelike antwoord kry nie.

“Na dae se heen en weer bel en probeer uitvind wanneer hulle die probleem kom oplos, kon ek nie ’n duidelike antwoord kry nie. Net dat hulle die heeltyd sê hulle wag vir toebehore,” het Jurie verder verduidelik.

Om sonder water te sit in eMalahleni is vir almal nou al ’n algemene probleem, maar vir Jurie en sy gesin is dit ernstig. Hulle het drie weke gelede terug getrek eMalahleni toe, na die huis wat hy in groot geword het – saam met sy skoonsuster wat kanker het en bedlêend is.

“Ek het in hierdie huis groot geword, en in daardie jare was daar nog ’n grondpad voor die huis. As ek nog so ’n paar maande wag, sal dit ook sommer weer ’n grondpad word, aangesien al die slaggate al ’n straat vorm,” het hy tong-in-die-kies gesê.

Op Woensdag, 12 Junie, het WITBANK NUUS ’n onderhoud met Jurie gehad by sy huis om 16:00.

Heel toevallig toe daag die munisipaliteit op. Hulle het geweier om kommentaar te gee, maar het baie vinning begin sakke vol toebehore agter hul bakkie uitgrou, maar dit was die verkeerde goed.

“Ek en my vrou kan darem ry om iewers te gaan stort, maar dit is nie so maklik met my skoonsus nie. Sy is in baie pyn en om haar rond te ry vir iets wat sy by die huis behoort te kan doen, is eintlik afgryslik. Sy moet elke dag gebad word as gevolg van haar siekte, maar die munisipaliteit voel vere. Ons het nooit hierdie probleme in Die Baai gehad nie. Ek het hier groot geword en die dorp val heeltemal uitmekaar uit,” het hy moedeloos gesê.

Op Donderdag, 13 Junie, het Jurie WITBANK NUUS laat weet dat hy wel ’n paar druppeltjies water het wat by sy krane uitkom, nadat die munisipaliteit die probleem kom ‘regmaak’ het, maar steeds nie genoeg om enigiets mee te kan doen nie, en dat die gat buite sy huis vol water is.

So duidelik is die probleem nog steeds daar, en niemand kan hom sê wanneer dit uiteindelik reggemaak sal word nie.

Die munisipaliteit is gekontak vir kommentaar, maar nog steeds is geen terugvoer ontvang teen druktyd nie.

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

  • Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za

Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram

 
Back to top button