Local newsNews

Amore Bekker besoek Basileia-gemeente

Radiopersoonlikheid Amore Bekker kom deel lewensraad met Basileia-gemeente dames

Die Suid-Afrikaanse radiopersoonlikheid Amore Bekker het die dames van die Basileia-gemeente in Klipfontein kom besoek om lewensraad en advies met hulle te deel vir hulle damestee.

RSG sou nie dieselfde wees sonder Amore, wat al ’n lang pad stap as ’n radiopersoonlikheid in Suid-Afrika nie.

Marentia Nel en Rianké Olivier.

Op Saterdag, 8 Junie het sy al die pad eMalahleni toe gekom om met die dames te kom gesels oor die Here, kos en sommer ook watter kant van ’n mens se gesig lyk die beste in ’n foto.

Amore is ’n legende in die Afrikaanse uitsaaibedryf en kan elke Maandag tot Vrydag gehoor word oor die radio vir haar program, Alhoebekker op RSG.

Natasha Pieterse, Karen Venter, Danica Venter, Jessica Harmse, Kayleigh Shortt en Elizabeth Venter.

Haar raad en haar paadjie met die Here deur die lewe skyn deur haar en die dames by die kerk het gelag en baie geleer – en is nou nader aan die Here as ooit tevore.

“Basileia-gemeente se damestee was hoogs suksesvol. Die dag is geopen deur die sprankelende Elma Nel, met ’n insiggewende inleiding oor intersessie. Amore was die hoofspreker en het met haar unieke sin vir humor, heerlik met die dames kom deel oor die invloed van kos op ons menswees en hoe Abba Vader ons daarmee kan help.

Amore het ook haar nuwe boek, “Ek het ’n engel gesien” aan Basileia bekendgestel en kopieë vir dames onderteken,” het Donene Diedericks van die gemeente gesê.

Haniel Badenhorst en Annelize Swanepoel, wat albei in die skoonheidsbedryf is, het ook elkeen ’n spreekbeurt gehad en vir die dames meer vertel oor hoe om die beste van hulle voorkoms en hulle gesondheid te maak.

Elma Nel.

Die dag is afgesluit met ’n kuier rondom die room van Basileia-dames se gebak, met soet en sout om van te kies en keur.

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

  • Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za

Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram

 
Back to top button