Local newsNews

Oud-onderwyser se saak uitgestel tot Julie

William Hendry Degenaar sal op 18 Julie in die Middelburg Landdroshof verskyn vir vonnis.

Die oud-onderwyser wat vroeër vanjaar skuldig bevind is op aanklagte van verkragting en van seksuele aanranding wat in 2011 en 2012 gepleeg is, se saak is weer uitgestel.

William Henry Degenaar (59) het vanoggend (18 Junie) in die Witbank Landdroshof verskyn.

Dié keer was sy regsverteenwoordiger, Werner Bruyns in Namibië vir ’n familie-krisis en was nie beskikbaar vir sy kliënt se vonnis nie.

Tydens Degenaar se vorige verskyning op 4 April het hy sy prokureur, Koos Harmse met Bruyns vervang.

Toe het Bruyns gevra vir uitstel omdat hy eers vertroud wou raak met die saak.

Staatsaanklaer Francois Brandt het toe aan die hof gesê hy vermoed dat Degenaar ‘vir tyd probeer speel’.

Die hoftranskripsies was ook nog nie vanoggend gefinaliseer nie.

Die vonnisoplegging is uitgestel vir 18 Julie en sal in Middelburg Landdroshof plaasvind.

Degenaar is Februarie reeds skuldig bevind

Die hof het in Februarie reeds bevind dat Degenaar ’n tiener vir wie hy skoolgegee het, oor ’n tydperk van vyf maande, sewe keer verkrag het.

Sy was minderjarig toe die seksuele aanranding en eerste verkragting in 2011 plaasgevind het.

Sy het in die hof getuig dat sy vyf dae voor haar 16de verjaarsdag ’n dissipelsklas bygewoon het.

Toe sy by die klas aankom, het sy opgemerk dat sy die enigste leerder by die klas was.

Sy het aan die hof vertel sy het voorgestel dat hulle die klas uitstel waarna Degenaar vir haar gesê het die ander leerders sal later by die klas inval.

Hy het vir hulle koffie gemaak, beskuitjies gebring om te eet en haar stoel nader getrek. Degenaar het vir haar vrae gevra oor haar familie en haar persoonlike lewe.

Toe sy nie die vrae antwoord soos wat hy verwag het nie, het hy met sy hand op die koffietafel geslaan en op antwoorde aangedring.
Hy het kwaad geword, opgestaan, die deur gesluit en die sleutel in sy sak gesit.

Die hof het aangehoor dat Degenaar sy hand op haar been opbeweeg en sy hom probeer keer het.

Sy het getuig dat Degenaar gebid het terwyl hy haar verkrag het.

Sy het die penetrasie as baie seer beskryf en ook gesê sy het emosioneel geraak waarna Degenaar haar gekalmeer het en ook gesê het dat hy haar nie sal seermaak nie, want hy is deur God geroep om bediening te doen.

Degenaar het getuig dat hy die deur dalk toegemaak het omdat dit koud was buite, maar hy het ontken dat hy die deur gesluit het.

Tydens sy ondervraging het Degenaar die slagoffer se weergawe ontken of gesê hy kan nie onthou nie, maar hy kon haar dalk gedruk het.

Slagoffer het haar ma nie vertel nie

Die slagoffer het nooit haar ma hiervan vertel nie omdat sy skaam was en ook nie geweet het hoe om die voorvalle te interpreteer nie.

Landdros Deon Minnie wat al 25 jaar lank seksuele oortreding sake hanteer, het bevind dat die slagoffer skaam gevoel en ook bang was vir Degenaar en daarom het sy dit nie dadelik gerapporteer nie.

Skoolhoof tree nie op nie

Toe die slagoffer haar na die skoolhoof gewend het, het hy vir haar gesê sy moet ’n ander skool gaan soek want die skool is te klein vir haar en die beskuldigde.

Nadat die klagtes deur die slagoffer se prokureur aan die destydse skoolhoof gestuur is, het die skool se beheerliggaam hom skuldig bevind en geskors na hul ondersoek afgehandel was.

Sy is in 2012 na ’n ander skool toe, waar sy haar matriek klaargemaak het.

Wat is jou opinie?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

 

 
Back to top button