Local newsNews

Dief maak ‘slim’ plan om vrou se handsak te steel

’n Geslote sekuriteitshek het nie ’n dief gekeer om ’n vrou se handsak vanuit haar huis te steel nie.

’n Bekende haarkapper is woedend vir ’n dief wat haar handsak met al haar en haar man se bankkaarte in gesteel het.

Dié dief het Sondag 06:28 ’n swembadbesem gebruik om die handsak vanaf hulle kombuistafel te lig en deur die sekuriteitshek te trek.

Dot van Rensburg het gesê haar hart is stukkend omdat dié handsak en beursie ’n geskenk van ’n vriendin af was.

En sy kook oor van woede, want buiten dat haar bankrekening leeggemaak is, moet sy en haar man nou weer in die ry gaan staan vir hul lisensies en ID kaarte.

“Ek het vroeg die oggend by ’n vriendin ingeloer vir koffie en toe ek by die huis kom was my handsak weg. Ek het eers gedink ek het die handsak erens verloor en teruggery en gaan soek. My handsak was net skoonveld,” het sy vertel.

Sy het eers gedink haar man, mnr. Schalk van Rensburg is op ’n inkopietog toe haar selfoon kort-kort boodskappe stuur van banktransaksies by ‘tuck shops’.

“Toe ek by die huis kom, het ek Schalk gevra hoekom hy heeltyd by die ‘tuck shops’ koop, want dis iets wat hy nooit doen nie. Ek was uit die veld geslaan toe hy sê hy was nie naby een van die winkeltjies nie.”

Hulle het deur die kameras wat in hul huis geïnstalleer is gegaan en gesien hoe die dief by hulle erf inkom, om beweeg en deur die vensters loer, die swembadbesem gaan haal en haar handsak deur die skuifdeur steel.

“Ons het die skuifdeur vroeër oopgemaak vir die hondjies; gelukkig was die sekuriteitshek gesluit. Ek ys as ek dink wat kon gebeur het as hy in die huis ingekom en ons doodgemaak het,” het Van Rensburg gesê.

Sy is moedeloos as sy dink aan die lang rye by Binnelandse Sake en die lisensiekantoor.

“Ek wens die dief het net die geld gevat en ons ID dokumente en lisensies gelos. Dit lê nou soos ’n berg voor ons.”

 

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

  • Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
  • Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitterof Instagram

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button