Braaf blaf oor ‘Bullying’

Solidariteit Helpende Hand se Braaf Boerboel besoek skole in eMalahleni.

Solidariteit Helpende Hand se Braaf Boerboel het die laaste week met sy Boerboel-broekie gaan blaf by skole en kleuterskole in eMalahleni om die kinders te leer oor die negatiewe effekte van teistering en hoe dit nie die ‘braaf’ ding is om te doen nie.

 

Braaf die Boerboel het by Laerskool Klipfontein ingeloer.

Braaf die Boerboel, die breinkind van Boerboel Wear, is Solidariteit Helpende Hand se held wat na kinders se welstand en toekoms omsien. Die kinders by elke skool was opgewonde en vol lewe toe Braaf hulle kom besoek het met sy baie belangrike boodskappe oor die lewe wat van toepassing is spesiaal vir kinders.

Braaf gaan ook uiteindelik sy buiging maak in ’n eksklusiewe strokiesprent.Die reeks van tien hoofstukke is geskryf deur Elana Barker, befaamde skrywer van raakvat rubrieke oor ouerskap. Die illustrasies is gedoen deur Lezinka de Meyer van Muse Creative Lab.

 

“Helpende Hand het besluit om stories te skryf oor Braaf die Boerboel se dapperheid! Ons het dit vasgevang in ’n reeks wat ouers vir hul kinders kan lees of wat kinders self vir mekaar kan lees. Ons wou graag die idee van die destydse Heksie en Bollie weer aan ons kinders bied,” het René Roux, adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie by Helpende Hand, gesê.

 

Braaf die Boerboel het sommer baie maatjies gemaak by Laerskool Panorama.

“Ons wil graag ons kinders leer dat dit braaf is om soms ook bang en versigtig te wees, maar die heel braafste is om iemand anders te help wat nie so bevoorreg soos jy is nie. Jy is braaf as jy help, jy is braaf as jy gee. Dit is ons almal se plig om ’n gesindheid van welwillendheid by ons kinders te kweek,” het René verder gesê.

Van die plaaslike Helpende Hand-tak het me. Lenie Swan gesê dit was ’n warboel week waarin hulle kans gekry het om dié boodskap na leerders toe uit te dra.

 

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

Exit mobile version