Oud-onderwyser hoor vonnis in Junie

Hy het gebid terwyl hy haar verkrag het.

’n Oud-onderwyser staar die moontlikheid van lewenslange tronkstraf in die gesig nadat hy skuldig bevind is dat hy ’n tienermeisie, wat ’n leerling by dieselfde skool was waar hy gewerk het, sewe keer verkrag het.

William Hendry Degenaar (59) is in Februarie skuldig bevind op sewe klagtes van verkragting en een van seksuele aanranding vir dade wat tussen 2011 en 2012 gepleeg is.

Sy slagoffer was minderjarig toe hy haar die eerste keer verkrag het.

Die klaer het in die hof getuig dat sy Degenaar reeds sedert 2009 as onderwyser geken het wat Christelike Studente Vereniging byeenkomste tydens pouses gehou het.

Sy het hom beskryf as ’n rolmodel na wie almal opgekyk het. Sy het later by sy dissipelskapskool aangesluit en dit was nie vreemd dat Degenaar vir kinders alleen of in groepe in sy stoorkamer te gebid nie.

Die klaer het getuig dat sy vyf dae voor haar 16de verjaarsdag ’n dissipelskapklas bygewoon het.

Toe sy by die klas aankom, het sy opgemerk dat sy die enigste leerling by die klas was.

Sy het voorgestel dat hulle die klas uitstel waarna Degenaar vir haar gesê het dat nog ’n leerling later by hulle sal aansluit.

Die hof het aangehoor dat Degenaar vir haar gesê het sy moet langs hom sit en hy sy hand op haar been opbeweeg het.

Sy het getuig dat Degenaar gebid het terwyl hy haar verkrag het.

Hy het na die tyd vir haar gesê dat niemand haar sal glo as sy iemand van die voorvalle vertel nie omdat hy ’n man van God is en iemand is waarna mense opkyk.

Tydens die sesde voorval het die slagoffer getuig dat sy vir Degenaar gesê het dat wat hy aan haar doen, ’n ernstige impak op haar het.

Haar skoolpunte sowel as haar verhouding met haar ma het verswak.

Sy het aan die hof vertel dat hulle oor selfmoord gepraat het en hy vir haar gesê het selfmoord is aanvaarbaar as sy voor die tyd vergifnis vra daarvoor en dat sy ’n ‘offer aan God’ sou wees.

Die klaer het getuig dat sy in 2015 besluit het om kriminele klagtes teen Degenaar aanhangig te maak omdat hy haar steeds lastig geval het nadat sy na ’n ander skool geskuif en later gematrikuleer het.

Professor Gloudina Maria Spies, wat haar toespits op volwasse slagoffers wat as kinders seksueel misbruik is, het die klaer maandeliks gesien vir behandeling.

Sy het getuig dat die klaer aan haar gesê het dat sy die saak sou terugtrek as Degenaar aan haar erken dat hy haar seergemaak het.

In ’n saak wat handel oor die historiese seksuele mishandeling van ’n kind, was landdros Deon Minnie baie versigtig om net op die weergawe van die klaer te steun.

Hy het egter bevind dat die klaer, sowel as Spies wat namens die klaer getuig het asook doktor Elsabe Bosch-Brits wat namens Degenaar getuig het, se weergawes betrouenswaardig was.

Minnie, wat al 25 jaar seksuele oortreding sake hanteer, het gesê dit is ’n mite dat kinderslagoffers van seksuele misbruik dit rapporteer kort nadat dit gebeur het.

“Die meeste slagoffers rapporteer eers maande, selfs jare na die voorval. Party rapporteer dit glad nie.”

Minnie het bevind dat die slagoffer skaam gevoel het en bang was vir Degenaar en dit daarom nie dadelik gerapporteer het nie.

Toe die slagoffer haar na die skoolhoof gewend het, het hy vir haar gesê sy moet ’n ander skool gaan soek, want die skool is te klein vir haar en die beskuldigde.

Alhoewel die Suid-Afrikaanse Raad van Onderwysers en ook die Departement van Onderwys Degenaar onskuldig bevind het omdat daar nie genoegsame bewyse was nie, het die skool se beheerliggaam hom skuldig bevind en geskors na hulle ook ’n ondersoek geloods het.

Verslae van Spies en Bosch-Brits het gevind dat Degenaar die slagoffer seksueel voorberei het.

Hy het dit ontken en gesê hy ‘berei almal voor om Jesus lief te hê’.

Tydens sy ondervraging het Degenaar die slagoffer se weergawe heeltemal ontken of gesê hy kan nie onthou nie.

Die hof moet nou beslis of daar wesenlike omstandighede is om van die voorgeskrewe minimum vonnis vir die verkragting van ’n minderjarige, wat lewenslange tronkstraf is, af te wyk wanneer Degenaar in Junie vir vonnisoplegging verskyn.

Hy het Donderdag, 4 April in die Witbank-landdroshof verskyn vir vonnisoplegging, maar sy nuut aangestelde regsverteenwoordiger, Werner Bruyns, het vir uitstel gevra sodat hy vertroud kan raak met die saak.

Staatsaanklaer Francois Brandt het aan die hof gesê hy vermoed dat Degenaar ‘vir tyd probeer speel’.

“Die staat is van mening dat die saak uitgerek word. Die impak op die slagoffer is geweldig traumaties. Sy moet elke keer weer die saak herleef,” het Brandt gesê.

Brandt het aan die hof genoem dat die hoftranskripsies gereed is vir die verdediging om deur te gaan.

Minnie het aangedui dat hy nie sonder ’n goeie verskoning weer die saak sal uitstel nie.

Wat is jou opinie?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version