Die Vroue Landbou-unie Nocturne-tak het hierdie maand heeltemal uit die boks gedink en met ’n blink idee vir Paasfees vorendag gekom.
In plaas van sjokolade paaseiers het hulle hoendereiers in hul boksies gevat en al te spoggerig opgedollie met kleurpapier, lint en die mooiste kreatiewe mooimaak goedjies.
Die tak het 75 pakkies eiers mooigemaak.
“Dit is 450 eiers en ons gaan baie mense met hongernood kan help,” het takvoorsitter Wilma van Zyl gesê.
Die streekvoorsitter, Marcelle van Vuuren, het ook kom inloer en die tak geluk gewens met al die toekennings wat hulle by die streekskonferensie ontvang het.
Marcelle het die tak aangemoedig om baie artikels in te skryf vir die opkomende kompetisies.