Hier is my drie goudklompies vir die jaar

As jy jou dag positief afskop maak dit ’n verskil in jou menswees.

Die nuwe jaar is uit die wegspringblokke en is reeds ‘n paar dae oud.

Ek en die Engelsman het besluit om nie vanjaar nuwejaarsvoornemens te maak nie.

Dit is nie volhoubaar nie en teen week drie voel ek al klaar so skuldig dat ek my sommer vergryp aan ‘n stuk koek.

Ons het wel besluit om ‘n positiewe uitkyk te hê op alle fasette in ons lewens.

Daarom bring ek vandag hierdie mandjie saam en deel met ons lesers.
In my mandjie is daar hoop.

Hoop dat Emmawillielenie gou al hulle agterstallige skuld met die kragreus kan dek sodat daar behoorlik na die stad se infrastruktuur gekyk kan word.

Die verouderde waternetwerk en elektrisiteit wat wegkruipertjie speel sodra die weerdiens reën voorspel in die Kaap, kort ‘n bietjie aandag.

‘n Paar sente sal darem handig te pas kom om die netwerke reg te ruk.

Geloof is die volgende toegedraaide pakkie wat ek oopmaak.

Volgens die bekende skrywer Joyce Meyer beteken geloof bloot ‘glo’ of ‘vertrou’.
Die woord impliseer ook lojaliteit en verpligting.

Die wat aan die bestuur van Emmawillielenie se sake is, hierdie sinnetjie is spesiaal vir julle.

“Ons glo en vertrou dat julle lojaal teenoor ons as inwoners van die stad sal wees en julle verpligtinge teenoor ons nakom en die stad na die beste van julle vermoë sal bestuur,” laat glip die Engelsman ‘n bietjie wysheid, terwyl hy ‘n ekstra blokkie ‘eish’ in sy glasie gooi.

Dan is die derde pakkie toegebind in ‘n bloedrooi strik – liefde.

As Emalahleni se netwerke in werking is, die stad getooi word met mooi straatnaambordjies, slaggate gevul word en die sypaadjies en parke mooi netjies gehou word, sal ons weer trots wees op die stad en met liefde verwys na ons Steenkoolstad.

Miskien is hierdie trio oorambisieus. Maar ek en die Engelsman hou styf vas aan die mandjie met die drie stukkies goudklompies in ons eie lewe en ook die van die mislikepaliteit.

* Zita Goldswain is ‘n redaksielid van Witbank Nuus en is die nuusredakteur van die publikasie. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Witbank Nuus nie.

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

Exit mobile version