Local newsNews

’n Terugblik op gister

Dié jaar is in ’n oogwink verby.

Na ‘Black Friday’ is dit asof die feesgety skielik net ingeskop het.

Die verkeer op die paaie is na my mening baie stiller en dit is selfs asof mense ook begin afskaal.

Die afgelope jaar was een propvol opwinding.

Januarie is afgeskop met ’n berig oor droë krane en ’n mamma se nagmerrie-ondervinding in Witbank Hospitaal.

Die mislikepaliteit se onvermoë om water te voorsien is nog steeds ’n teer punt.

Diensleweringstakings het ook die voorblaaie versier.

Die helder oranje vlamme wat gulsig aan Indlela se kapel gelek het, was ’n foto wat vertel het van hoe geskiedenis binne minute uitgevee kan word.

Maar, dis nie altyd net slegte nuus gewees nie.

Dit het ook gesneeu in Emmmawillielênie.

Ons het ons lesers ook ingeweef in menslike nuus berigte.

Gerda Whiteman het ons ingenooi en al haar oudhede gewys en dit was veral ’n klein spieëltjie wat die middelpunt van baie gesprekke geword het. Dié spieëltjie het sy destyds by haar pa se boekhouer gekry en nooit besef die spieëltjie dra ’n geheim rond nie.

Emmawillielênie se hart het oorgeloop van trots toe Thabo Ndlovu die laaste seisoen van Idols gewen het.

Op sportgebied het Owen Trachsel se boogskiet die nuus gehaal toe hy as wêreldkampioen gekroon was.

Om Ndumiso Mokwena se nek het daar ook ’n goue medalje gehang. Hy is die wêreld se beste karateka in die seuns 14 to 15 kadet liggewig kumite.

Dit was lekker om deel te kon word van elke storie wat op my tafel beland het. Met elke storie los ek ’n bietjie van myself tussen die lyne, leestekens, die trane, lag en emosies.

Vir elkeen wat my toegelaat het om hulle storie te skryf, sê ek dankie vir die eer om jou storie in my ink te verewig.

Die ‘eish’ klingel in die Engelsman se glas en hy glimlag skalks.

Sy jaar was ook vol opwinding, elke vis wat hy uitgetrek het, was vir hom ’n persoonlike beste en elke sê-ding wat so onverwags tussen die slukkies uit sy glas gekom het, is so gepas en het deel geword van my opiniestuk.

Ek lig ’n soetetjie op 2023 en sê dankie, dit was ’n goeie jaar gewees.

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

 HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button