Die bywoning was goed en die skuts se korrel in tydens die Suid-Afrikaanse Jag- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) Sebra-tak se skietdag.
Skuts kon hul vernuf ten toon stel in verskeie items, insluitend ’n nagskiet-aktiwiteit op Saterdag, 21 Oktober by Witbank Praktiese Skietklub.
Oefen- en pretskiet het deurlopend deur die dag plaasgevind vir klublede, sowel as lede van die publiek. Daar is ook spesiaal voorsiening gemaak vir junior skuts om deel te neem.
Klublede het ook meegeding in die posliga met handwapens op 20m en vlakvark .22 jagwapens of jaghandwapens.
In die Multi-Dissiplinêre Skiet (MDS) kon skuts op drie bane deelneem en die pretskiet-item het 100m ghongskiet (klubwapen), 100m ghongskiet .22 en haelgeweerskiet (valplate) ingesluit.
Met die spesiale nagskiet-aktiwiteit het skuts deelgeneem aan die .22 jakkals, haelgeweer en handwapen items.
In die groepeerskiet-kompetisie het die wenner in die senior kategorie ’n geslagte skaap gewen en die junior wenner ’n R700 Overland geskenkbewys.
Die dag is afgesluit met ’n potjiekos-kompetisie en rugby kyk op die groot skerm.
“Baie dankie aan al die skuts en ondersteuners wat die dag saam met ons kom geniet het by ons tweede byeenkoms hierdie jaar,” het Maryka van der Tas, organiseerder, gesê.
Enige belangstellendes kan Maryka skakel by 082 399 4338.
Het jy ’n storie om te vertel?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
• Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste.
• Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitter of Instagram