Gloriedae en onthou-oomblikke by rugby reünie

Wanneer die oud-spelers bymekaar kom word die ‘geheime’ uit die mou gelaat.

Die eens roemryke stadion waar Richard Cooke en sy span die Springbok-belaaide Westelike Provinsie in 1983 in ’n Lionbeker-kragmeting ’n 24-19 loesing gegee het, staan nou leeg.

Ben Spies.

Al wat oor is, is herinneringe, onthou-jy-nog oomblikke en ou wit en swart foto’s.

Fanie Joubert.
Richard Cooke and Peter Steward.

Deur die jare kom die oud-rugbymanne nog een keer ’n jaar bymekaar en kuier saam.

Saterdag, 30 September het ’n paar spelers en klubspelers van ouds saamgekuier by Maanlig-oord, ’n vleisie gebraai en gelag oor alles waaroor die koerantmense nooit geskryf het nie.

Hennie de Lange.

“Daar het baie agter die skerms gebeur en baie het in die skrums gebeur; gelukkig was daar nie televisiekameras nie,” het Richard Cooke, kaptein van die destydse Suidoos-Transvaalspan gesê.

Peter Steward wat 18 jaar vir Witbank rugby gespeel het, het vertel van ’n wedstryd op Belfast waar hy teen Polla Fourie te staan gekom het.

“Oorlede Fanie Vermaak het altyd gesê, ‘Peter, doen jy net jou werk’. Polla draai om en sê ‘jy is nes ’n &^#(%$@&%$$ gatvlieg’. Die volgende oomblik toe ek omdraai, toe ‘stitch’ Polla my. Ek kon nie betyds keer nie en was gesig eerste grond toe. Oorlede Fanie het rustig nader gestap en gesê, ‘Polla, vat jou size’. Dit was so die derde of vierde losskrum sien ek net Polla se gesig kom so uit die skrum uit en hy skree, ‘Fanie, nee man, nee man Fanie’. So vanuit die binnekant van die skrum het Fanie hom goed bygekom en weer rustig gesê, ‘Ek het jou gesê, vat jou size Polla’.”

Simon van Niekerk se staaltjie oor hoe hy ’n opponent van die veld af gejaag het, het almal ook weer eens hardop laat lag.

Derrick Beneke.

“Dit was so 1978 of 1979. Ons het aangeval en die opponent se skrumskakel het ’n swak bal uitgegee en dit rol toe na die losskakel toe. Ek kan toe gaan ‘score’ toe ’trip’ die ou my. Ek sê toe vir hom jy kort om gedonner te word. En toe begin hy hardloop. Ek hardloop toe agter hom aan, nie om hom te vang nie, net dat hy weghardloop. En hy hardloop. Hy hardloop so ’n ‘s’ op die veld pawiljoen toe en is toe in die kleedkamer in. Ek gaan toe in die kleedkamer in en sê vir hom, ‘Leon, kom ons gaan speel rugby’.”

Simon se spanmaats het tussen die lagbuie vertel die speler het soos ’n agterstevoor vraagteken gelyk soos hy vir Simon weggehardloop het.

 

 

 

 

Voor daar gegroet en beloftes vir die volgende ‘kuier’ gemaak is, het die manne ook hulle ekspert opinies oor die wêreldbeker gegee.

“Die Springbokke gaan beslis in die finaal eindig. Rassie het ’n rugby-brein en hy gaan die beker huis toe bring.”

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

• Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste.

• Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook,  Twitter of Instagram

HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

Exit mobile version