WITBANK NUUS-lesers kan vier lekker-lees liefdesverhale opraap

Om die lekker-lees boeke te wen is baie maklik.

Lapa Uitgewers het vandeesweek vier Romanza’s bekendgestel. Hierdie sagteband boeke is ideaal as jy net die middag wil ontspan met ’n bietjie leesstof.

Hier is ’n uiteensetting van die boeke:


As die liefde kom – deur Corné van Rooyen

Mianke Grové is ’n liefdesverhaalskrywer, maar sy glo nie aan die liefde nie.

Vir haar is liefde bloot ’n mite, nes feëverhale.

Maar wanneer haar aanstaande swaer haar vra om hand by te sit op sy vriend se wildreservaat, ontmoet sy die aantreklike natuurgids Wian Engelbrecht. Wian laat haar hart dadelik vinniger klop.

Hoe meer tyd sy in sy geselskap deurbring, hoe moeiliker word dit vir haar om teen die gevoelens te stry wat hy in haar wakker maak.

Tussendeur passievolle soene, hartkloppings en haar teorie oor die liefde, moet sy besluit: Gaan sy haar oorgee aan ware liefde of gaan sy Wian deur haar vingers laat glip?

Frieke se beskermengel – deur Bets Smith

Ná haar verloofde se dood tydens ’n kapingspoging worstel Frieke met skuldgevoelens.

Op aandrang van haar ouers en haar beste vriendin vertrek sy na Italië waar haar stiefbroer, Marco, as argeoloog werk.

Haar reis en hul soektog na Alarick se legendariese graf, maak die verre en onlangse verlede vir haar oop.

Terwyl sy en Marco in Cosenza tussen Middeleeuse geboue en antieke ruïnes ronddool, herstel die onverklaarbare breuk tussen hulle geleidelik. Terselfdertyd word dit ’n ontdekkingsreis na haar ware self en wat in haar eie hart lê. Ondanks verraad, misverstande en gevare, vind sy die kosbaarste skat: Ware geluk.

Liefde en verlies – deur Malene Breytenbach

John en sy broer, Michael, is seuns van ’n skatryk volstruisboer in Oudtshoorn.

Hulle wedywer vir Margaretha se hart, maar dis Michael, die erfgenaam, wat uiteindelik met haar trou.

John gaan veg in die Anglo-Boereoorlog terwyl Margaretha in weelde woon. John keer terug met ’n pragtige en formidabele vrou aan sy sy en begin ’n gemengde boerdery.

Dan stort die veremark oornag in duie en almal wat skatryk was, word oornag brandarm.

Die ontnugtering en swaarkry wys daar steek veel meer in Margaretha as net ’n mooi gesig. Sal liefde of verlies uiteindelik oorwin?

Soos dan – deur Thea Holland

Ná ’n liefdesteleurstelling is Rozette nie van plan om gou weer verlief te raak nie.

Sy wil eers doodgewone vriendskappe geniet.

Maar dan ontmoet sy Durandt met sy onheilige, goudbruin oë.

Durandt reken dis ’n slegte tyd om met ’n meisie soos Rozette deurmekaar te raak.

Sy mislukte huwelik het hom nie net emosioneel geknou nie, maar ook geldelik.

Nadat ’n yslike veldbrand sy kwekery feitlik verwoes het, moet hy hard werk om kop bo water te hou. Gaan ’n dorp vol bemoeisieke vroue dié twee bymekaar help bring of gaan die skinderbekke se wilde stories hul vuurwarm romanse blus?

Om in aanmerking te kom vir die boekprys, stuur ’n epos na zita@witbanknews.co.za en vertel ons wie jou geliefkoosde skrywer is.
Dié kompetisie sluit op 25 September om 12:00.

Die wenner sal telefonies gekontak word.

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of skakel ons by 013 656 2490.
• Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste.
• Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitter of Instagram.

HET JY GEWEET?
Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

Exit mobile version