Local newsNews

Karate-kampioene se tasse gepak vir wêreldkampioenskappe in Amerika

Die stad staan agter twee karate-kampioene.

Ons stad kan gereeld spog met sporttalent wat hier geslyp word.

Op 7 en 8 Oktober gaan twee jong karatekas na Miami, Amerika reis om deel te neem aan die Shotokan Karate Wêreldkampioenskappe waartydens 20 lande verteenwoordig gaan word.

Milán Comrinck (10) van Laerskool Klipfontein het met karate begin toe sy net vyf jaar oud was.

Dié jong kampioen het al baie prestasies onder haar belt, insluitende 22 medaljes waarvan nege goud, agt silwer en vyf brons.

Sy het ook eerste plek vir haar kata gewen tydens die virtuele karate kampioenskappe in Bangladesh, Suid-Asië, toe sy net sewe jaar oud was.

Sy het ook ’n silwer verower toe sy agt jaar oud was.

“Karate is ’n baie lekker sport en ek het baie maats gemaak. Dit hou my baie fiks,” het Milán vertel.

Sy sê dat sy daarvan hou om in haar vrye tyd saam haar pa fiets en motorfiets te ry en dat sy graag swem. Sy is boonop ook ’n Wiskunde-liefhebber.

“Ons sal graag die besienswaardighede wil besoek, terwyl ons daar is. Ek was nog nooit oorsee nie en is baie opgewonde. Ek is altyd op my senuwees net voor enige kompetisie, maar ek bid altyd dat Liewe Jesus met my sal wees,” het Milán vertel.

Haar ouers, Kobus en Lana Combrink het vertel dat die sport haar geleer het om nooit op te gee nie en dit is van toepassing in alle aspekte van haar lewe.

Milán is ook deel van die Shotokan Wêreld Karate Federasie en is tans ’n student by die Sonkei Karate Dojo onder leiding van senseis Johnny en Diane Nel.

Deandré Schourie.

Nog ’n kampioen is die ses-jarige Deandré Schourie.

Hy is tans ’n leerder by Laerskool Kragbron en iemand om dop te hou.

Deandré gaan ook in Oktober die wêreld ore aansit in Miami.

Op 25 Februarie het Deandré deelgeneem aan die SWKF nasionale kampioenskappe waar hy silwer behaal het in sy kata en brons in die kumite afdeling.

“Ek is baie opgewonde, maar so bietjie senuweeagtig. Ek doen nou al karate vir ’n jaar en ses maande,” het Deandré gespog.

Deandré se pa, Theuns Schourie het gesê dat sy seun begin deelneem het in karate omdat hy teruggetrokke was en die sport hom uit sy gemaksone geneem het en omdat boelies vandag ’n groot probleem is in skole, ”Vir veiligheid van kinderontvoering en ook vir ons wat na mekaar moet kyk en die vermoë om in ’n onveilige situasie te kan optree,” het Theuns verduidelik.

Behalwe om die wêreld aan te vat in die opkomende wêreldkampioenskappe, hou klein Deandré van jag, visvang en kamp, maar fokus tans op die harde oefening wat die maand voorlê tot die opbou van die kompetisie.

Sy grootste aanhangers is sy pa, Theuns en ma, Nolene asook sy broer, Duhandrè.

Die hele stad staan beslis agter die twee kampioene en wag met groot afwagting op hul tuiskoms en hopelik ’n medalje of twee in die tas.

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za

Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram

Back to top button