Local newsNews

Wêreldkampioen spring nou vir ’n ander doel

Die wêreldkampioen hoogspring-ster het in ’n eksklusiewe onderhoud met WITBANK NUUS sy hart oopgemaak en erken, ek is ’n ‘recovering addict’.

Wie is Jacques Freitag?

’n Wêreldkampioen hoogspringer, ’n afrigter, ’n atleet wat die wêreld aan sy voete gehad het.

Sy naam word in dieselfde sin as Usain Bolt genoem.

Hy is een van slegs ’n handvol atlete wat die wêreldkampioenskap in ’n item op jeug- junior- en seniorvlak kon wen. Sy persoonlike beste hoogte was 2.38 meter.

Hyself staan 2.2m in sy sokkies.

Die vraag word dié keer aan Jaques gevra, wie is Jacques Freitag?

“Ek is ’n ‘druggie’. Ek is ’n ‘recovering addict’, ek is God se fout …”

Stilte het die kamer waarin die onderhoud by Breakthrough Wellness Centre gehou is, omhels toe Jacques (41) dié antwoord gee.

Sy blou oë flits vir ’n oomblik venster toe, sy hande begin saampraat en hy vertel hoe hy van die hoogste kruin van sukses geval het tot ’n man wat taxi gespeel het en mense rondgery het vir ’n paar rand.

“Ek het in ’n stadion gestaan met duisende mense om my, en ek was stoksielalleen. Ek weet waar ek die lat misgespring het. Dit was die dag toe ek probeer het om ’n ‘bargain’ met God te maak.”

 

Freitag het vertel hoe hy in die finale by die wêreld atletiekbyeenkoms in Parys in 2003 op die hoogspringmat gesit en bid het, “Ek het vir God gesê as ek wen ek Sy naam van die hoogste berge af sal verkondig. Ek het gewen en is opgeraap deur flitsende kameras, die stadion wat uitgebars het in opwinding, die partytjies vol dwelms en alkohol en vrouens wat gevolg het. Daar op die hoogspringmat was die laaste keer dat ek gebid het.”

Op die kruin van sukses het hy in sy eie woorde “my vrou en kind weggegee”. Hulle seuntjie was net twee jaar oud, vandag is hy al ’n tiener.

Intussen het die borgskappe ingestroom en geld was nie ’n kwessie nie.

’n Jaar later, toe hy net 22 jaar oud was het ’n enkelbesering hom begin opkeil en moes hy onttrek uit die Olimpiese Spele in Anthene.

“Maar my afhanklikheid aan dwelms en slaappille was ’n voltydse werk. En ek kon dit volhou, of so het ek gedink.”

In 2012 was sy naam weer in die koerante, dié keer omdat hy in Bronkhorstspruit gevang is met dwelms.

Jacques het begin afrig en sê vandag dat hy sy atlete ingedoen het.

“Ek was net ’n halwe ‘coach’ Ek was die heeltyd of gepil of hoog. As ek die horlosie kan terugdraai sou ek meer kampioene kon lewer.”

Die syfers skuif aan en Jacques vertel dat hy ses jaar gelede probeer selfmoord pleeg het.

“Ek was 35 jaar oud, ek het nie meer die wêreld aan my voete gehad nie. Ek het nie meer in myself geglo nie. Ek het myself gehang.”

Hy het ’n week later in Milpark Hospitaal wakker geword.

’n Jaar daarna was hy in ’n motorongeluk betrokke waarin hy sy nek op twee plekke gebreek het.

Die dwarslat van die lewe het net té hoog geword en Jacques kon nie daaroor gaan nie.

“Dwelms is ’n ‘quick fix’, selfmoord is ook ’n ‘quick fix’. Ek het by die konsert opgedaag sonder om een kleedrepetisie by te woon …”

Jacques het sy hande ’n oomblik laat sak, opgestaan en saggies gesê, “Ek kom nou eerste. Ek is Jacques Freitag, ek is ’n kind van God wat Sy genade elke dag so nodig het.”

Jacques beplan om in Februarie die Suid Afrikaanse hoogspringrekord te breek.

“Die vraag is nie of ek dit gaan breek nie, die vraag is hoe ver gaan ek dit breek.”

Wat is jou opinie?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

 

 
Back to top button