Local newsNews

Vrou het nie geweet haar man is doodgeskiet nie

Weduwee vertel van aanval waartydens sy en haar buurman aangerand en haar man doodgeskiet is.

Die weduwee van die man wat vroeër die week tydens ’n plaasaanval doodgeskiet is, het haar hart teenoor WITBANK NUUS uitgestort.

“Waar begin mens die stukkies optel? Hoe tel jy die drade op? Die  man met wie ek 31 jaar lank getroud was is net weg,” het me.

Charlene Eckstein (58) gesê.

Onbewus soek-soek sy na haar trou- en verloofring wat deur die rowers van haar vingers afgeruk is.

“Ek het voor die aanval die heeltyd geweet iets gaan gebeur, ek het heeldag ’n ongemaklike gevoel in my rondgedra…”

Die aanval het Maandag, 26 Junie net na 18:00 op die plaas in Balmoral, waar die Ecksteins woon, gebeur.

Eckstein vertel van die nagmerrie, “Ons buurman, Leon het na my toe gekom en gevra of ek iemand in sy huis sien ingaan het. Hy het gesê sy radio is weg. Toe ek opkyk was mense besig om my voordeur af te breek.”

Sy het gesê sy het so groot geskrik en haar eerste reaksie was om die vermeende rowers met haar selfoon te gooi omdat sy gedink het dit is wat hulle soek.

“Take the f*#&$& phone!,” het sy geskree toe sy die selfoon gooi.

Die vier mans het Eckstein en mnr. Leon de Wet vasgebind en herhaaldelik met ’n staalpyp geslaan.

“Een van hulle het ’n geweer gehad en gesê: ‘I am going to shoot you,’’ het Charlene vertel.

Toe haar hondjie, Bruno opgewonde begin blaf het sy geweet haar man, mnr. Charlie Eckstein het by die huis aangekom van die werk af.

Sy het ’n oomblik stilgebly, diep asemgehaal en gesê, “Toe hoor ek ’n skoot.”

Wat sy nie op daardie stadium geweet het nie, was dat die oomblik toe haar man uit sy Jetta geklim het, is hy koelbloedig doodgeskiet.

Terwyl sy probeer om haar emosies onder beheer te kry, het sy vertel dat een van die rowers haar na haar kamer toe gevat en in die loop gesê het, ‘I shot your husband dead’.

“Die woorde het so hol geklink. Ek het so gekonsentreer want ek was bang ek word verkrag. Dankie die Here die rower het my gelos.”

Die rowers het in die Jetta geklim en na die hoofhuis op die plaas gery.

Intussen het Leon losgekom en meer as ’n kilometer ver gehardloop om hulp te soek.

Toe hy en ander inwoners van die omgewing teruggejaag het huistoe, het die Jetta verbygekom.

Hulle het omgedraai en die Jetta gejaag.

Die rowers het die kar gestop, uitgespring en te voet op vlug geslaan.

Met die polisie se aankoms op die toneel is een van die rowers ernstig gewond gevind.

Volgens Vosman Polisie se woordvoerder, kaptein Lizzy Hlathi is die man deur sy makkers agtergelaat toe hy homself ernstig gewond het tydens die voorval.

Hy is later in die hospitaal dood.

“Ek het soveel gemengde gevoelens, ek het haat in my, ek het seer, ek is kwaad,” het Eckstein se stem die stilte gebreek.

Charlie het voorheen vir Kego gewerk en onlangs by CJ Projects in Middelburg begin werk.

“Sê asseblief vir almal dankie vir hulle ondersteuning, liefde, gebede en boodskappe. Veral vir Fritz en Erika Schultz baie dankie dat julle my so ondersteun,” het Charlene saggies bygevoeg.

 

Wat is jou opinie?

 

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

 

HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

 
Back to top button